Hoërskool DF Malan-leerder en ’n Mej. Junior SA 2025-finalis help organisasie

Met die hulp van ’n jong Bellvillese skoonheid, Micha Harrison, sal menige kinders in nood vanjaar hul skoolwerk met trots kan aanpak.


Met die hulp van ’n jong Bellvillese skoonheid, Micha Harrison, sal menige kinders in nood vanjaar hul skoolwerk met trots kan aanpak.

Micha, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool DF Malan en ’n Mej. Junior SA 2025-finalis, het Shiloh Synergy, ’n liefdadigheidsorganisasie, bygestaan om skryfbehoeftes in te samel vir skenking aan kinders in nood by drie skole aan die buitewyke van die noordelike voorstede.

Die Shiloh Gifts of Grace Stationery Drive is ’n jaarlikse projek wat ten doel het om basiese benodigdhede te voorsien aan kinders by die laerskole Kipheuwel, Bottelary en Joostenberg.

“Sy het dadelik ingespring om te help toe sy van die projek te hore gekom het,” sê Delene Kleyn van Shiloh.

“Sy het ’n hart vir kinders in nood en is op die oomblik besig om kinderklere vir behoeftige kinders op dié plase bymekaar te maak.”

Micha sê sy het ’n passie vir kinders en glo dat alle kinders die reg het op liefde, veiligheid en ’n goeie opvoeding.

“Al hierdie dinge is uiters noodsaaklik om ’n goeie fondament in enige kind se lewe te bou. Dit maak my hart bly om glimlagte op hul gesigte te sien en om iets vir hulle te kan doen wat hul lewens verryk,” sê sy.

Weggooibabas

As ’n Mej. Westelike Provinsie 2024-finalis het Micha betrokke geraak by liefdadigheidswerk – iets wat sy vanjaar met oorgawe wil voortsit, veral onder minderbevoorregte kinders, asook weggooibabas.

Sy was betrokke by die Hannah’s- en Tiny Owls-projekte vir babas, sowel as projekte om geld vir sanitêre doekies vir minderbevoorregte meisies in te samel.

Met verskeie projekte in die sak, is Shiloh Synergy verbind tot die holistiese opheffing van minderbevoorregte gemeenskappe in die Wes-Kaap, en tans ook die Oos-Kaap.

“Ons projekte word met integriteit bestuur en deur passie vir die mense van Suid-Afrika gedryf. Ons bestuur die projekte op so ’n manier dat ons verseker die gemeenskap trek die maksimum voordeel uit skenker- en borgskapfondse,” sê Kleyn.

“Ons grootste strewe is om ’n beter toekoms vir ons kinders te bou deur middel van onderwys en intellektuele ontwikkeling, en sodoende ’n beter toekoms vir Suid-Afrika te bou. Ons deure is altyd oop vir die gemeenskap.”

You need to be Logged In to leave a comment.