Bouwerk aan nuwe hoërskool in Brantwood, Kuilsrivier
‘n Nuwe hoërskooll, wat vir sowat 550 leerders voorsiening sal maak, verrys tans op die stuk grond tussen Clivia- en Valottalaan in Brantwood. FOTO: Carina Roux

Konstruksie het onlangs begin aan ‘n nuwe skool op ‘n voorheen leë erf in Brantwood.

Wouter de Vos, wykraadslid, het by navraag gesê hy was self aanvanklik nie daarvan bewus nie, maar die grond, tussen Clivia- en Valottalaan, is vir baie jare reeds vir ‘n skool geoormerk.

Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, het bevestig dat dit ‘n hoërskool is wat in aanbou is.

Klaskamers

“Die huidige ontwikkelingsplan maak voorsiening vir 15 klaskamers en sowat 550 leerders,” het Hammond gesê.

As alles volgens plan verloop en daar geen onvoorsiene vertragings is nie, behoort die skoolgebou teen April volgende jaar voltooi te wees.

Die geprojekteerde begroting vir die ontwikkeling is sowat R70 miljoen.

Dit is egter nog onseker wanneer die skool amptelik vir leerders sal oopmaak.
“Dit is nog onder bespreking,” het Hammond gesê.

Tekort

Dit is geen geheim dat daar ‘n tekort aan plek in skole in die Kaapse metro en ook in Kuilsrivier is nie.

TygerBurger het ook by die departement navraag gedoen of daar al enige daadwerklike planne op die tafel is vir die langverwagte skole (‘n laer- en hoërskool) op ‘n erf in Jagtershof wat hiervoor geoormerk is.

Een van die verpligte vereistes voordat konstruksie van die skole in Jagtershof kan begin, is die verlenging van Saxdownspad — vanaf Langverwachtpad tot by Van Riebeeckweg, wat bykomende toegang tot die betrokke erf moontlik maak aangesien die woonbuurt se paaie nie al die skoolverkeer sal kan dra nie.

Beplanning

Die verlenging van die pad is reeds in Mei vanjaar voltooi.

Hammond het gesê hierdie ontwikkeling is steeds in die beplanningsfase.

“Geen datums is nog bevestig vir die ontwikkeling van die nuwe skole in Jagtershof nie.”

Geen ander skole word tans vir Kuilsrivier beplan nie.

“Die departement het wel vanjaar twee nuwe skole in die groter Kuilsrivier-gebied oopgemaak, naamlik die hoërskole Blue Downs en Blue Berry Hill,” het Hammond gesê.

Bouwerk aan nuwe hoërskool in Brantwood, Kuilsrivier
‘n Nuwe hoërskooll, wat vir sowat 550 leerders voorsiening sal maak, verrys tans op die stuk grond tussen Clivia- en Valottalaan in Brantwood. FOTO: Carina Roux

You need to be Logged In to leave a comment.