Nuut in die stoel as skoolhoof by die Hoërskool Brackenfell, hou Danie le Roux ’n belangrike doelwit voor oë: om die kinders van Brackenfell in Brackenfell te hou, en om ’n skool in die gemeenskap vir die gemeenskap te wees.

Hy was voorheen hoof van die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres en het op 1 Julie die leisels in Brackenfell oorgeneem.

Danie, wat in die Vrystaat gebore is, het in Prince Alfred Hamletgrootgeword, waar hy sy laerskooljare deurgebring het. Die familie het later Mosselbaai toe getrek en hy het aan die Hoërskool Punt gematrikuleer.

“Ek het ná matriek my onderwysdiploma by die Wellington-onderwyskollege verwerf en daarna ’n BA-graad in tale by die Universiteit Stellenbosch,” vertel hy in ’n onderhoud met TygerBurger.

Daar was sy hoofvakke Afrikaans, Engels, Nederlands en sielkunde.

LEES OOK | Geliefde skoolhoof van die Hoërskool Brackenfell sê koebaai

Sy eerste onderwyspos was by die Hoërskool Montana in Worcester, waar hy Engels addisionele taal en Geografie aangebied het.

“Ek het in daai tyd nog baie rugby gespeel en selfs vir die Boland uitgedraf,” vertel hy.

Ná ’n paar jaar by verskeie skole in die Boland, ook as adjunkhoof by die Laerskool Paarl Gimnasium is hy in 2015 as hoof by dié skool aangestel. In 2022 het hy die pos aanvaar as skoolhoof by die Hoërskool Charlie Hofmeyr.

“Dit was lekker om terug te wees in die mooie Ceres-omgewing waar ek grootgeword het.”

Gesinsverpligtinge het hom egter genoop om die pos by die Hoërskool Brackenfell te aanvaar.

“As gesin is ons ondersteuningsnetwerk hier, en toe die pos van skoolhoof van die Hoërskool Brackenfell oor my pad gekom het, het ek besluit om aansoek te doen.”

In diens van ander

Danie sê hy het vroeg in sy lewe al besef dat die lewe sin kry as ’n mens leer om in diens van ander te staan.

“Ek dink die meeste mense in die onderwys het daardie beskouing; om iets vir mense te beteken. Dit is die groot passie, en om dit te kan uitleef in die onderwys, is werklik wonderlik.

“Dis ’n hoogtepunt elke keer wanneer jy sien jy maak ’n positiewe verskil in ’n kind se lewe en om die voorreg te hê om deel te wees van kinders se opvoedingsproses,” sê hy.

“As die kind aan die einde van sy skoolloopbaan kom en jy het die pad saam gestap, is dit baie bevredigend om te sien hoe die kind ontwikkel het en sy potensiaal bereik het, al was jy net ’n klein bousteentjie.”

Danie sê daar is deurentyd uitdagings in die onderwys.

Die grootste daarvan tans is die toelatingsproses en die verwagtinge van ouers, die onderwysdepartement en die regering.

“Daar is baie druk van bo af vir akademiese prestasie, veral in matriek waar slaagsyfers belangrik is.”

Wat toelatings aanbetref, sê hy is daar nou baie meer aansoeke as waarvoor die skool plek het.

“Maar dis ’n uitdaging wat nie uniek is aan ons skool nie. ’n Mens sal graag baie meer kinders wil akkommodeer, maar die plek is beperk. Ons het vanjaar 1 540 leerders, van wie 300 in hul matriekjaar is.”

Op die kort- en langtermyn sal hy wil sien dat die leerders in die skool se voedingsgebied geakkommodeer word.

“Die uitdaging is om die kinders in Brackenfell se laerskole hier te hou, dat hulle nie ’n heenkome elders gaan soek nie.

“Dit is een ding wat ek graag sal wil verander. ’n Ouer moenie verby ’n skool in sy plaaslike gemeenskap ry na die volgende skool nie.”

Le Roux is opgewonde oor die toekoms.

“Die Hoërskool Brackenfell is ’n ongelooflike skool met nog baie potensiaal. Daar is goeie fasiliteite en ongelooflike personeel.

“Die gemeenskap het ’n lekker positiewe energie met baie ontwikkeling wat plaasvind,” sê hy, en voeg by strategiese beplanningsessies sal eersdaags begin om oor toekomstige projekte te besin.

Die suksesresep vir enige skool, sê hy, is die betrokkenheid van die ouers.

“In my ervaring kan ’n skool nie sterk wees sonder die ouers se betrokkenheid nie. Oral waar ek was, is dit die suksesresep – om in ’n vennootskap te wees met die gemeenskap en die ouers.”

You need to be Logged In to leave a comment.