Die saal by die Hoërskool Brackenfell was vanoggend volgepak waar ouers en matrikulante met groot afwagting gesit en wag het vir die skoolhoof, Jannie Muller, om die slaagsyfer, top-20, en algehele matriekuitslae om 11:00 bekend te maak.
Buite het die kwik op 36 °C gedraai, waar die klas van 2023 gretig tougestaan het om hul uitslae te ontvang.
Dié skool spog vanjaar met ’n 98,8%-slaagsyfer.
Van die 246 leerders wat ingeskryf het vir die matriek-eksamen het 243 geslaag.Altesaam het die skool 28 A-gemiddeldes, 232 onderskeidings en 82,11% universiteitstoelatings.
Muller het die prestasie as uitmuntend beskryf toe hy ouers en leerders geluk gewens het.Volgens Muller is die klas van 2023 deur groot uitdagings in die gesig gestaar toe hulle ná hul gr. 9- en 10-jaar wat tydens die covid-pandemie was, moet terugkeer skool toe.
“Die pandemie het ’n negatiewe impak op hul akademie gehad en die groep moes baie harder werk in die aanloop tot hul matriekjaar. Tydens die pandemie moes hulle ook baie vinnig hul tegniese vaardighede opskerp,” het Muller aan TygerBurger gesê.
“Tydbestuur was nog ’n uitdaging. ’n Betrokke Brackie is ’n gelukkige Brackie en die matrieks was baie betrokke by buitemuurse aktiwiteite, of dit nou sport of kultuur was.”
Volgens Muller was daar matriekleerders wat onder swaar finansiële en emosionale omstandighede deurgedruk het.
Taai ekonomiese tye is beleef en die uitwerking van die pandemie was nog steeds te bespeur, en baie leerders het geswig onder die druk van hul matriekjaar.
“Hier het die skool se ondersteuningsdienste ingegryp om kinders by te staan waar dit nodig was. Matrieks moes leer hoe om onder druk te werk.”
Hy beskryf die klas van 2023 as ’n “lekker en gelukkige groep kinders met baie gees”.
“Hulle het die jaar op ’n hoë noot begin toe die skool die Geesbeker by die Top-4-skole-atletiek-byeenkoms gewen het.”
Met die Wêreldbeker rugbytoernooi later in die jaar het die Brakkies ook vlamgevat toe die oud-Brakkie Cheslin Kolbe vir ’n tweede keer saam met die Springbokke geseëvier het. Dit was ’n groot hoogtepunt vir die hele skool wat leerders geïnspireer het om uit te styg.
Muller het die klas van 2023 ’n suksesvolle toekoms en voorspoed toegewens.
“Vir julle is dit die begin van ’n nuwe era. Hou aan om hard te werk, dit word altyd beloon. Jy bepaal jou eie toekoms.”