Partykeer wonder ek wat toekomstige historici gaan dink wanneer hulle terugkyk op hoe ons vandag leef.
Gaan dit ons kleredrag wees wat uitstaan? Of die manier wat ons gestem het? Die opgang van kunsmatige intelligensie en skermtyd?
Hoe ouer ek word, en tyd al meer relatief word, hoe meer besef ek hoe baie daar in die afgelope 120 jaar gebeur het.
Kan jy jou indink dat daar mense nou doodgaan wat die Eerste Wêreldoorlog of die Spaanse griep net-net misgeloop het?
As ’n kranige familienavorser, raai ek daar is een ding wat toekomstige historici en ander met hierdie stokperdjie gaan byval: Die verandering in voorname.
Wat het die afgelope 50 jaar met ons name gebeur?
Moet my nie misverstaan nie: Ek is geen naampuris nie. My naam is self vreemd. Ek is maar net ’n nuuskierige agie.
Indien jy nie ’n agtergrond het in hoe wit Afrikaanssprekendes tradisioneel hul kinders name gee nie, in kort: Vir etlike generasies, dikwels al vir eeue, oorleef daar sekere familiename.
Een gesin sal byvoorbeeld hul eerste seun ’n vorm van Pieter Johannes Herculaas du Toit gee omdat elke eerste seun sedert die familie hul voet aan wal gesit het daardie selfde naam het, of iets baie naby daaraan.
Daar is mos die formule: eerste seun kry pa se pa se naam en die tweede seun die ma se pa se naam.
En met gesinne wat 14 of 15 kinders gehad het, was die kanse goed dat iemand met daardie naam sou rondloop.
Die res van die kinders is na een of ander familielid of Bybelse karakter vernoem.
In my jong dae het die meeste seuns met variasies van Johan, Jaco, Kobus of Pieter rondgeloop, wat weer variasies van Johannes, Jacobus of Petrus was.
Vrouens wat genoeg van hul nooiensvanne gehou het, het dit ook sommer as name gebruik. Kyk dan vir De Klerk Oelofse of mans met die name Moolmans, Retief of Myburgh.
Daar was natuurlik altyd die uitskieters. Die Afrikaanse Rupert, May of Claire, maar die patroon is merendeels gevestig.
Dit was ’n familiehistorikus se droom. Almal het dieselfde name; almal bly in en om dieselfde plek. Die raaisel van jou familiegeskiedenis is net so opgelos.
Iewers het daar egter oor die afgelope paar jaar ’n verandering ingesluip. ’n Protes in die kleine.
Mense het in hul massas begin om hul kinders ander name toe te eien. Volksvreemde name.
Dit het eintlik al in my generasie begin. Dit was toe nogal mode vir die ouers om kinders ’n kombinasie van hul eie naam te gee. Iets soos Jean-Mari, Johandri of Jaco-Mari.
Dis steeds iets wat ’n familienavorser kan ontsyfer, want die name is immers daar, al het Jaco en Mari dalk al 1 000 km weg van hul tuisdorp getrek.
Maar toe het mense die patroon gebreek. Ons het Liams, Hunters, Rileys, Nixons en Jacksons waar ons eers Dirk, Fanie en Ferdie sou gehad het.
Ek kan nie sê of dit sleg of goed is nie. Of selfs hoekom dit gebeur het nie. Skerms of kunsmatige intelligensie se skuld? Nee wat, dit los ek maar vir daardie toekomstige historici.