Die sestigjarige man wat gister by Glen Beach naby Kampsbaai verdrink het, was Silumko Mgoqi van Mandalay, ’n vakadviseur vir geskiedenis by die onderwysdistrik Metro-Oos.
“Mgoqi was verantwoordelik vir geskiedenis as vak vir die hoërskole vanaf Kraaifontein, Bellville, Kuilsrivier en Eersterivier, tot in die Helderberg. Hy was baie geliefd en ons sal hom mis,” het Francois Lubbe, bestuurder van streek 4 in diese
lfde onderwysdistrik, gesê.
Benjamin Schereka, direkteur van dié onderwysdistrik, het Mgoqi as ’n sagmoedige mense beskryf op wie jy altyd en enige tyd kon staatmaak.
“Volgens sy vrou was hulle gister op ’n uitstappie toe hy ’n tienjarige seun probeer red het. Silumko kon daarin slaag om die kind na veiligheid te bring en was nog in die water toe ’n groot brander hom teen die rots vasgeslaan het. Sy kop het vermoedelik die rots getref en hy was bewusteloos,” het Schereka gesê.
“Hy het met sy gesig in die water gedryf en die paramedici kon hom nie help nie en hy is op die toneel dood verklaar.
“Vanjaar sou sy laaste jaar as vakadviseur wees en hy het daarna uitgesien om einde Desember klaar te maak. Nou is sy aftrede hom nie eens beskore nie,” het Schereka gesê.
Hy laat sy vrou en twee kinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.