Wat kan ’n mens doen aan die probleem van kinders wat soggens ronddrentel terwyl hulle reeds in die skool moes wees?
Hier waar ek woon is ses skole, met twee hoërskole, en ’n mens sien lank ná 08:00 nog kinders in skoolklere of aansukkel skool toe of doelloos rondstap.
Ek het al in my kop probeer uitwerk wat die oorsaak is. Verlaat ouers te vroeg die huis dat hulle nie seker maak hul kinders is betyds by die skool nie. In my huis is ek soggens soos my matriekseun se skaduwee om seker te maak hy maak klaar sodat hy betyds by die skool kan wees.
Een van die skole straf leerders deur die hek teen ’n sekere tyd toe te sluit, maar dit skep ’n nuwe probleem. Leerders staan dan die strate vol of drom saam by die spaza-winkel.
Ek het geleer dat ledige jongmense gou genoeg iets anders, gewoonlik verkeerde dinge, gaan kry om te doen. En het ek nie al gesien hoe word daar oop en bloot gestaan en rook nie. Ook nie net sigarette nie.
Wat is die oplossing? Dit weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat ons ’n generasie jongmense grootmaak wat geen benul van tyd het en dan ook hul straf (om uitgesluit te word) geniet deur op straathoeke met kattekwaad te staan.
Nes daai spul wat op belastingbetalers se onkoste in die tjoekie lê.