Hitte dryf honderde na swembad

Die bestuur van die munisipale swembad in Ruyterwacht het gister hul hande vol gehad toe honderde swemmers ’n bietjie lafenis gaan soek het.


Die bestuur van die munisipale swembad in Ruyterwacht het gister
hul hande vol gehad toe honderde swemmers ’n bietjie lafenis gaan soek
het.

Die kwik het gister in Kaapstad tot 30 grade celsius gestyg en baie
mense het die koelte van swembaddens opgesoek. Dinge is ook vererger weens die
skoolvakansie.

Volgens ’n buurtwaglid van Ruyterwacht, Daniël Dekker, moes hulle
inspring om te help toe mense van omliggende dorpe soos Elsiesrivier en
Bontheheuwel op die swembad toegesak het.

“Die probleem is nie dat hulle nie
welkom is nie, die probleem is hulle vandaliseer die eiendom en spring oor mure
en drink alkohol. Hulle wil eenvoudig nie betaal nie en luister nie eens as die
polisie opdaag nie. Ons as buurtwaglede wat op die toneel was, is met klippe
bestook. Toe een van ons patrolleerders ’n groep tienermeisies verjaag, het die
een – ek skat haar so vyftien of sestien jaar oud – hom seksuele gunsies aangebied
as hy haar sou see toe neem,” sê Dekker.

Die swembad se mure het die skerp ysterpenne op, maar volgens
Dekker word dit eenvoudig met bakstene platgekap. “Elsiesrivier het ’n Olimpiese
grootte swembad, maar dit is glo onder konstruksie,” sê Dekker.

Charles Esau, raadslid vir Ruyterwacht, sê hy is bewus van die
probleme wat by die swembad plaasgevind het. “Die probleme het ontstaan omdat
die swembaddens by Parow, Elsiesrivier en Goodwood gesluit was. Dit is net
Ruyterwacht in daardie omgewing wat oop was en mense wat gewoonlik na die ander
swembaddens sou gaan, het daarheen gestroom. Uiteindelik was daar bykans 700
mense wat wou swem, terwyl die swembad net ’n kapasiteit van 500 het. Daar was
ook net twee lewensredders aan diens en nog twee moes ingeroep word, maar
daar was net te veel mense. As daar meer mense is as wat die swembad se kapasiteit toelaat, kan
dit lewensgevaarlik word. Die mense het later oor die mure begin spring om binne
te kom en die polisie en wetstoepassers is ingeroep om orde te herstel,” sê
Esau.

Volgens Esau is Parow en Goodwood se swembaddens vir herstelwerk
gesluit, terwyl Elsiesrivier s’n weens vandalisme toe is. “Ek weet nie wanneer
dit weer gaan oopmaak nie, maar die huidige situasie is nie volhoubaar nie.
Binne die volgende paar dae gaan ek uitvind wat die situasie met die ander
swembaddens is,” Esau.

Hy het ook onderneem om vandag die swembad te besoek om hom te vergewis
van die probleme wat daar heers.

You need to be Logged In to leave a comment.