T ygerBurger, wat eersdaags met 14 gesoneerde uitgawes gaan pronk, roem homself daarop dat elkeen van die gesoneerde uitgawes propvol hiper-plaaslike nuus is.

Dít beteken dat inwoners wat byvoorbeeld die nuwe De Grendel-uitgawe van Woensdag 4 Mei af gratis in hul posbusse sal ontvang, nuus sal kan lees wat spesifiek op hulle van toepassing is.

TygerBurger se verslaggewers is elk verantwoordelik vir ’n spesifieke gebied. Hier’s nie ’n luukse van spesialisverslaggewers nie – die joernalis wat die kennisgewing oor die kerkbasaars skryf, is dieselfde een wat verslag moet lewer oor die subraadvergadering,” sê Marita Meyer, TygerBurger se redakteur.

“Dis dieselfde joernalis wat die voorbladberig moet skryf, asook die onderskrifte van die skolefoto’s.”

Die verslaggewers wat op die twee nuwe uitgawes gaan werk, is Brenden Ruiter en André Bakkes (TygerBurger De Grendel), en Michelle Linnert (TygerBurger Tyger Valley).

“Die enigste nuus wat werklik vir mense saak maak, is nié dit wat ver van hulle gebeur nie, maar dit wat hul sak, hul kinders, hul vullisdrom of hul straat raak. Ons boor daardie aartjie raak, elke week,” sê Michelle Linnert. André wou ook vertel van die aartjie wat raakgeboor word, maar Michelle het hom voorgespring.

Hy gaan onverstoord voort: “Elke persoon in jou straat het ’n merkwaardige storie. Wie gaan dit vertel? Wie sal hierdie soort stories vir die volgende tien jaar kan vertel? Die immergroen, hiper-plaaslike koerante, dís wie!”

Volgens Brenden gee gemeenskapsjoernalistiek die genoegdoening dat jy vir mense saakmaak. “Lesers glo dat as hulle jou bel, jy ’n verskil kan maak. Hulle dreig selfs die Stad Kaapstad met die koerant,” sê Brenden.

Elke koerant het ook sy eie advertensieverteenwoordiger wat kliënte in dié gebiede sal bedien.

Michiel Engelbrecht is verantwoordelik vir die De Grendel-uitgawe en Marjory Mashonga vir die Tyger Valley-uitgawe.

“Ons voorsien in die behoeftes van enige grootte adverteerder – van die viswinkel op die hoek wat net in die een sone wil adverteer, tot die kettingwinkelgroep met verskeie takke in ons verspreidingsarea wat sal baat by advertensies in al die sones,” sê Garth Hewitt, WP Media se advertensiebestuurder.

You need to be Logged In to leave a comment.