Die Stad Kaapstad se water- en sanitasiedirektoraat is besig om ‘n nuwe kontrakteur aan te stel om die opgradering van Fynbosdam in Majik Forest, Bellville, te voltooi.
Werk sal vandeesmaand hervat word en na verwagting teen die einde van Junie vanjaar voltooi wees.
Ronél Viljoen, raadslid vir Wyk 70, sê aan TygerBurger dat ‘n nuwe kontrakteur aangestel is weens onvoorsiene vertragings.
“Die verbetering en opgradering van die Fynbosdam dra by tot die groter Majik Forest. Die opgradering van die Kreupelboomdam in Proteavallei is ‘n goeie voorbeeld van een van die departement se soortgelyke projekte. Nadat die projek voltooi is, sal die voetpad ook klaargemaak word om die park vir ons seniors en gestremde gemeenskap meer toeganklik te maak,” sê Viljoen.
Die Stad belê ongeveer R5,5 miljoen in hierdie opgraderingsprojek, wat daarop gemik is om die watervloei van die dam deur die oorloop te verbeter.
Die werk sluit die volgende in:
• Die vervanging van die bestaande betonoorloopsel en die bou van nuwe skuinswalle.
• Die bou van ‘n nuwe trapvormige oorloop-afvoer-kanaal en die bekleding van die kanaal.
• Die gebruik van skanskorwe om die bekken teen erosie te beskerm.
Geleë in die Majik Forest-bewaringsgebied maak Fynbosdam deel uit van Kaapstad se stormwaterinfrastruktuur wat deur die Catchment Stormwater and River Management-tak in stand gehou word.
Die dam word gereeld vir veiligheid geïnspekteer, wat die behoefte aan kapitaalwerk-opgraderings aan die ernstig ge-erodeerde oorloopstruktuur geïdentifiseer het.
Ongelukkig is werk wat reeds in November 2024 begin het, opgeskort weens kontrakgeskille, wat veroorsaak het dat die projek se voltooiing vertraag is, bevestig Zahid Badroodien, burgemeesterslid vir water en sanitasie.
“Inwoners was ondersteunend deur geduldig te wees terwyl die aanstelling van die nuwe kontrakteur gefinaliseer word, en ons wil hulle daarvoor bedank.
“Voorts, as alles volgens plan verloop, word verwag dat werk op die terrein binnekort hervat sal word om die veiligheid en integriteit van hierdie waardevolle infrastruktuur te herstel,” sluit Badroodien af.
