Sadeeqa Solomons van Westridge spog met haar vis op die Houtbaai-kaai.
Sadeeqa Solomons van Westridge spog met haar vis op die Houtbaai-kaai.

Drie huisvroue van Mitchells Plain het ‘n teenvoeter vir hul verveeldheid, gesondheidskwessies en stres gekry deur te leer hengel saam met jong kinders en senior mans langs die viswater van die Valsbaai-kus.

Die nuwe “hengel-kansvatters” is Roshana Manuel van Beacon Valley, Sadeeqa Solomons van Westridge en Roshan Larnie van Nuwe Tafelsig.

“Gewoonlik moet vrouens hul mans se vangste skoonmaak en gaarmaak vir ete en na visstories luister – of dit nou die waarheid is of nie, en ek het besluit om self met my aas en visstok langs die viswaters te gaan staan. Ek is ‘n groot voorstander van gemeenskapsprojekte en toe ek lees van die hengelprogram vir die jeug, het ek navraag gedoen en aangesluit, want ek wil ook leer,” sê Manuel.

Antwoord teen stres

Solomons is ‘n skuldinvorderaar en ly ook aan fibromialgie, ‘n kroniese siekte wat pyn regdeur die liggaam veroorsaak en gepaardgaan met moegheid. Dit kan alleenlik met medikasie beheer word en deur stres te vermy of tot die minimum te beperk.

“Weens my werk as skuldinvorderaar werk ek onder stres, maar vandat ek begin hengel het en my medikasie gebruik, voel ek baie b​eter. Ek is ‘n enkelma en geskei en die egskeiding het ook tot my stres bygedra. Nadat ek my eerste vis gevang het, het die visvang-gogga gebyt en vang ek net op warm dae vis, want my liggaam kan nie die koue hanteer nie,” sê Solomons.

Larnie hengel al vandat sy ‘n pikkie is en die lekkerste van hengel is dat jy langs die viswaters klomp idees kry en jy leer om geduldig te wees, sê sy.

Tyd om te dink

“By die huis kry jy nie kans om idees uit te dink nie, want as direkteur van die Larnie-stigting is daar baie dienste wat gelewer moet word. Ek hou van kook en bak en om gemeenskapswerk te doen. Die lekkerste vir my van hengel met die jeug is dat hulle my leer om my vishoeke, sinkers en aas aan te sit. Ek weet darem nou ook hoe om my vis van die hoekie af te haal. Ek leer hulle om geduldig en kalm te wees met geselsies, en so leer ons mekaar ken,” sê sy.

“Een van my komiese oomblikke was toe ons op die oopsee uitgegaan het. Toe ek my vislyn ingooi, het ek gegly en op die grond beland. Gelukkig was my man byderhand om my op te help. Ek het nog nie ‘n groot vis gevang nie, maar eenkeer het die manne wat ook saam hengel gesê hulle is nou klaar gehengel, want ek vang al die vis. Dit kos ons drie keer ry om die jeug by die Houtbaai-kaai te kry, wat nogal baie petrol kos,” sê sy.

Program vir jeug

“Die hengelprogram is deur die Larnie-stigting vir die jeug aangebied en ek het gevoel ek wil deel daarvan wees om eerstehands die jeug se ervaring te deel. Ons almal ken die gesegde van gee iemand ‘n vis en hy het kos vir ‘n dag, maar leer hom om self vis te vang en hy sal dan altyd kos op die tafel hê. Dit is presies wat nou met al die aspirant-hengelaars gebeur, want hulle sit nou kos op hul tafels met hul vangste van die dag,” sê Larnie.

Al drie is gou om te sê dat jy nie sommer met die eerste ingooi van jou vislyn suksesvol is nie. Jy moet baie geduld hê vir die vis om te byt.

“Jy kan nie die gevoel beskryf as jou eerste vis byt nie; jy moet dit self ervaar. Alles gaan ook nie soos beplan nie, want ek gooi die vishoek in om in die water te beland en dan word ek self ingekatrol omdat die vishoek aan my klere vassit. Ek is net spyt ek het nie vroeër al begin hengel nie; dis pret en jy leer baie oor jouself langs die viswaters,” vertel Manuel.

Nooi nog vroue

Sy is werkloos en het gedink hengel is vervelig, maar sy sing nou ‘n ander deuntjie en nooi graag ander vroue om ook te kom aansluit.

Solomons sê om te hengel is pret en sy is bly sy hengel nie saam met beroepshengelaars nie.

“Ons doen dit vir pret en om van ons probleme te vergeet en het nie beterweterige mense nodig om voorskriftelik te wees nie. Ek hou ook van troeteldiere en stap gereeld met my hond as ek nie by die viswaters is nie en leer ook nou weer om ander te vertrou. Dis alles deel van my genesing en om met my gesondheidstoestand saam te leef,” sê Solomons.

Mense wat klein koelbokse, klein visstokke of enige ander hengeltoerusting wil skenk,kan Rafiq Larnie by 074 489 6245 bel.

Roshana Manuel van Beacon Valley en Roshan Larnie van Nuwe Tafelsig maak hul lyne nat langs die viswaters aan die Valsbaai-kus.
Roshana Manuel van Beacon Valley en Roshan Larnie van Nuwe Tafelsig maak hul lyne nat langs die viswaters aan die Valsbaai-kus.

You need to be Logged In to leave a comment.