KAAPSTAD – In niks minder as ’n heldedaad het plaaslike paramedici blitsvinnig ingetree om ’n 10-jarige kind in die finale fase van nierversaking uit die Oos-Kaap na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad te vervoer vir lewensreddende behandeling.
’n Private ambulans van Titanium Ambulansdienste in Brackenfell het verlede Woensdag teen geen koste die 1 500 km afgelê om Quné Bosch Kaapstad toe te bring.
Teen dié tyd was Quné van Jeffreysbaai, reeds 15 dae in `n staatshospitaal in die Oos-Kaap waar sy nie die nodige behandeling kon ontvang nie, as gevolg van onvoldoende mediese fasiliteite.
“Dit het baie sleg gegaan met haar. Daar was nie eens water in die hospitaal nie, en sy kon vir twee weke nie bad nie. Benewens dit het die hospitaal nie die fasiliteite om kinders met nierversaking te behandel nie. Haar ouers moes haar medisyne met ’n doktersvoorskrif self by ’n apteek gaan koop vir toediening in die hospitaal,” sê Chris van Beljon, die stigter van Chris Bring Hoop.
Quné is aanvanklik deur haar dokter na die Rooikruiskinder-hospitaal verwys, maar behandeling is afgekeur omdat sy in die Oos-Kaap woon, sê Chris.
“Dié hospitaal vereis dat nierpasiënte wat hier behandel word, inwoners van die Wes-Kaap is vir voortgesette behandeling wat op die lange duur benodig word,” verduidelik hy. Kort daarna het ons ’n R3 miljoen-skenking gekry vir Quné se behandeling, maar steeds is behandeling afgekeur vir dieselfde redes.”
Behandeling goedgekeur ná vinnige ingryping
“Dit was ’n lewe-of-dood-situasie, en Quné se ouers het my in hul desperaatheid gekontak vir hulp,” sê Chris.
Hy moes vinnig ingryp, en kon met die hulp van verskeie rolspelers dit so bewerkstellig dat Quné se behandeling by die Rooikruis-hospitaal goedgekeur word, op voorwaarde dat die familie na die Wes-Kaap verhuis. Die proses het sowat `n week geneem om af te handel, en tyd het gedruk.
“Ons moes haar so gou moontlik in die Kaap kry, maar daar was nog `n struikelblok in die pad,” vertel hy. “Sy was te siek om te vlieg en kon dus nie met die Wings of Hope vliegtuig vervoer word, soos beplan was nie.”
Intussen het die paramedikus Kobus Kotzé van Titanium Ambulansdienste een van Chris se Facebook-plasings, wat om hulp pleit, raakgelees.
“Kobus het my verlede Vrydagmiddag uit die bloute gebel en hul dienste sonder enige huiwering gratis aangebied. Hy het die dokter se nommer gevra en self alles gereël,” sê Chris.
Kobus en twee ander paramedici, Hilmer van der Westhuizen en Wesley Greeff, het verlede Dinsdag in die pad geval, en na net ’n paar ure se slaap Woensdagoggend terug gery om Quné veilig by die kinderhospitaal te besorg waar voorbereidings vir dialise die volgende dag begin het.
Stabiele toestand
Kobus vertel die rit Kaapstad toe het goed afgeloop.
“Daar was nie enige komplikasies nie, en ons was in konstante kontak met haar dokter wat baie behulpsaam was,” sê hy.
“Sy was die heeltyd wakker, en omdat `n mens soms die vrees op haar gesiggie kon sien, het ons haar deurentyd belowe dat ons haar veilig in die Kaap gaan kry om haar gesond te maak. Ons het gehelp want ons het die hulpbronne om dit te kon doen. Dit was beloning genoeg om die verligting op haar ouers se gesigte te sien toe ons haar by die hospitaal in stoot.
Chris praat met groot dankbaarheid oor Kobus en sy span. “Ek het `n knop in my keel gekry toe ek sien hoe sag en vol deernis hulle met Quné gewerk het. Hulle het haar soos hul eie kind versorg, elke oomblik met liefde en geduld.
“Dié manne is nie net paramedici nie, hulle is ware heroes. Want dít is wat heroes doen – hulle red lewens.”


