’n Hawelose man is glo verantwoordelik vir die plante, bome en struike wat in die Parow-Wes gebied uitgepluk en net daar gelaat word.

Credit: SYSTEM

’n Inwoner van Ryanweg in Churchill Estate in Parow-Wes sê inwoners daar sukkel met ’n hawelose man wat glo plante, bome en struike in die gebied vernietig deur dit uit te pluk en te stort.

Die inwoner, wat anoniem wil bly, sê die hawelose is bekend aan hulle, maar dat hulle nie veel aan die situasie kan doen nie.

“Die ou dwaal elke dag en nag in die gebied en saai net verwoesting waar hy gaan. Hy sal by enige huis opdaag en sommer net die plante, struike en bome begin uithaal of afbreek. Hy los dit dan net daar of sleep dit weg om weer by iemand anders te gaan probeer plant.

“Die hele Parow is al vervuil van hoe hy mors. As jy met hom praat, dan maak hy hom uit die voete en los sy gemors net daar.

“Ons het nou al met verskeie inwoners hier in Parow gepraat en almal is nou al keelvol vir hom. Ons het geen oplossing om hom uit die gebied te kry nie. As daar enige hulp van iemand is, sal dit baie waardeer word,” pleit die inwoner, wat al 43 jaar daar woon.

Kapt. Kevin Williams, polisiewoordvoerder, sê die polisie het tot dusver nog geen klagte ontvang oor die betrokke persoon of beweerde voorvalle nie.

Buiten die plante, bome en struike word daar ook in die gebied geworstel met haweloses wat kamp opslaan in die omgewing, en stormwaterpype en dreine met hul rommel verstop.

Die inwoner het bygevoeg veral die “tente” in die Parow Park-gebied, sowel as langs McIntyrestraat en die brug by Frans Conradie-rylaan is problematies.

“Hulle gooi al hul gemors in die dreine en steek dit aan die brand. Dit veroorsaak dat alles oorstroom. As dit reën, dan maak dit die paaie onbegaanbaar.”

Hy sê dit blyk asof of daar geen belangstelling is om die gebied op te ruim of haweloses te verskuif nie.

Inwoners van Parow is bekommerd oor die aantal haweloses wat “tente” in die gebied oprig. INLAS: ’n Inwoner van Parow-Wes kla ook oor verstopte dreine, wat veroorsaak word deur artikels wat in die stormwaterpype en dreine agtergelaat word.

Hy beweer ook dat van die haweloses betrokke is by voorvalle van roof.

Roger Cannon, wyksraadslid, het by navraag gesê hy dra kennis van die probleem rakende die rommel in die stormwaterpype en dreine.

“Dit is ’n algemene verskynsel dwarsoor die Skiereiland. Baie haweloses wat rondom die winkelsentrums rondhang, versteek hul besittings in die stormwaterpype en dreine gedurende die dag en gaan haal dit dan wanneer hulle terugkeer om te gaan slaap.

“Indien hulle ander artikels bykry, sal hulle natuurlik meer spasie vir hul besittings benodig. Die maklike manier is om onnodige artikels te verbrand of net dieper in die stormwaterpyp af te stoot, wat dit nog meer blokkeer. Dit lei tot oorstromings.

“Nog ’n gewilde plek is oop spasies en parke waar stormwaterpype en dreine te vind is. Tydens winter of die reënseisoen is dit algemeen om klein dammetjies in die parke te sien. Waar die water kon weggespoel het, veroorsaak die verstopte dreine reusevloede.”

Dit is gewoonlik artikels soos emmers, komberse, kussings en meubels wat die dreine verstop, sê Cannon.

Hy sê inwoners wat dié soort gedrag waarneem, moet dit by die Stad Kaapstad aanmeld.

“Padongelukke wat deur vloede veroorsaak word weens verstopte dreine, kan voorkom word as sulke soort gedrag gestop word,” sê Cannon.

’n Inwoner van Parow-Wes kla ook oor verstopte dreine wat veroorsaak word deur artikels wat in die stormwaterpype en dreine agtergelaat word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article