Amptenare van die Wes-Kaapse onderwysdepartement het onlangs die Wêreld Hardopleesdag-projek van stapel gestuur. Op die foto is (van links) Vernon Koen, Landeka Diamond (direkteur) en Tony Daniels (kurrikulumhoof).


Die Metro-Oos-onderwysdistrik, wat vir die ondersteuning van skole van Bellville tot Gordonsbaai verantwoordelik is, beplan om bevordering van lees een van sy fokuspunte vir die jaar 2022 te maak.

Een van die aktiwiteite waarvoor skole in Metro-Oos vanjaar aangemoedig gaan word om deel te neem, is die Wêreld-hardopleesdag op Woensdag 2 Februarie. Hierdie dag word in samewerking met Nal’iBali beplan.

Volgens Vernon Koen, biblioteek-beampte vir die distrik, is die fokus van hierdie veldtog om soveel onderwysers, leerders en ouers moontlik te kry om op 2 Februarie hardop te lees.

“Die Metro-Oos-onderwysdistrik wil alle onderwysers, leerders, ouers en gemeenskapslede uitdaag om deel van hierdie leesveldtog te wees. Die amptelike Nal’iBali-storie, wat op die Nal’iBalie-webtuiste beskikbaar is, of enige ander storie of teks kan op hierdie dag hardop gelees word en sodoende kan lesers ’n bydrae lewer om een miljoen kinders in Suid-Afrika aan hardoplees bloot te stel,” sê Koen.

Kommunikasie, met betrekking tot die veldtog, word van die distrik aan skole gestuur, maar ouers is ook welkom om self by die Nal’iBali-webtuiste te gaan registreer om ’n leesbelofte te maak en toegang tot die Nal’iBalie-storie te verkry.

Die webadres is https://nalibali.org/WRAD2022

Koen sê die distrik se hoop is dat hierdie die ideale geleentheid vir ouers en kinders sal wees om vanjaar met ’n liefde vir lees af te skop en dat dit hulle sal inspireer om nóg meer gedurende die jaar te lees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article