‘n Man wat vanoggend om 06:45 op perron twee op die Bellville-treinstasie deur ’n trein doodgery is, is geïdentifiseer as die 38-jarige Fezile George Ham van Wallacedene, Kraaifontein.
Hy was ’n polisieman verbonde aan die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor in Kaapstad en was op pad werk toe, toe hy deur die trein getref is.
Lorna Frieslaar, ’n passasier op die trein, is heeldag al in ’n emosionele toestand nadat sy alles sien gebeur het, het sy aan TygerBurger vertel.
“Die trein was al op pad van Bellville na Kaapstad toe die oorledene die trein probeer inhardloop het. Hy het op die trein probeer spring tussen twee waens en het hom seker met die afstand misgis. Die ander passasiers op die perron het geskree en die trein het stadig tot stilstand gekom,” vertel sy.
Frieslaar en ander pasassiers het toe by die venster uitgeleun om te sien waaroor die bohaai gaan en het die bande van ’n rugsak op die perron gesien en die onderste gedeelte van ’n liggaam wat daar naby lê.
“Ek was so geskok, want die bolyf was weg en ek vermoed dit het nog êrens onder die trein gelê. My eerste gedagte was dat so ’n traumatiese gebeurtenis met enigeen kon gebeur. Dit kon my broer, pa of oom gewees het, wat sy lewe op hierdie wyse verloor het,” sê sy.
Met haar aankoms by haar werk in Kaapstad, moes sy dadelik suikerwater drink, sê sy, want sy was nog bewerig van die skok.
“Ek is al heeldag emosioneel, want wanneer jy jou huis verlaat, verwag jou familie wat agterbly dat jy vanaand weer veilig by die huis sal opdaag ná jou dag se werk. My gebede gaan uit na die man se familie, wat vanaand tevergeefs gaan wag dat hy moet opdaag,” het sy tranerig gesê.
Die polisie ondersoek die saak.