Op 19 Augustus maak die Vredesmaan, die agste volmaan van 2024 en ’n supermaan, sy verskyning.
Dié volmaan is so herbenaam deur die Centre for Astronomical Heritage vir die organisasie se erfenis-maanlys vir Suid-Afrika.
Edward Foster van die organisasie verduidelik dat die Noord-Amerikaanse benaming vir die maan die Sturgeon Moon is.
“’n Sturgeon is in Afrikaans ’n steur, ’n varswatervis waarvan die eiers vir kaviaar gebruik word. Die vis se voorsate het in die laat Kryttydperk, sowat 120 miljoen jaar gelede, geleef en die steur word daarom dikwels ’n lewende fossiel genoem,” sê hy.
Volgens Foster het die benaming Sturgeon Moon sy ontstaan by inheemse inwoners van Noord-Amerika gekry wat in die omgewing van die Groot Mere gewoon het, waar Augustus die hoogtepunt was van die seisoen waarin hulle steur gevang het.
Eerste groenmielies
“In ander dele van die VSA word Augustus se volmaan die Green Corn Moon of Grain Moon genoem, omdat die eerste groenmielies dan gepluk kan word.
In sommige dele staan dit weer as die Red Moon bekend omdat die stof en deinserigheid van die warm somerweer dit so kleur. Die steur kom nie in Suid-Afrika voor nie en dit is beslis nie tyd vir groenmielies nie en nog minder is dit warm en stowwerig. Dit maak dus nie sin om die Amerikaanse name vir Augustus se volmaan te gebruik nie,” sê hy.
Foster voeg by dat daar twee redes is waarom die Centre for Astronomical Heritage besluit het om die agste volmaan van 2024 die Vredesmaan te noem.
Vrouemaand
“Eerstens is Augustus Suid-Afrika se Nasionale Vrouemaand en in Suid-Afrika is die voorkoms van geweld teen vroue uitsonderlik hoog. Trouens, Suid-Afrikaanse vroue word geteister deur van die hoogste vlakke van geslagsgebaseerde geweld ter wêreld. Tweedens vier ons op 9 Augustus Nasionale Vrouedag. Dit is die dag in 1956 waarop 20 000 dapper Suid-Afrikaanse vroue na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het om te protesteer teen die paswette vir swart vroue.
“Die Vredesmaan is dus ’n simbool van Suid-Afrika se hoop dat die geweld teen vroue spoedig gestop kan word en, wanneer die Vredesmaan in Augustus opkom, bring dit ook hulde aan die duisende vroue wat in 1956, onder leiding van Lilian Ngoyi, Helen Joseph, Albertina Sisulu en Sophia Williams-De Bruyn, saamgestaan het teen die skending van hul menseregte,” sê hy.
Perigeum
Hy verduidelik dat die maan se gemiddelde afstand van die aarde af 384 000 km is. Maar op 19 Augustus is dit egter slegs 367 372 km weg – amper by sy perigeum, wat op 21 Augustus bereik word.
Die perigeum is die naaste punt wat die maan aan die aarde in ’n siklus bereik, en in Augustus sal dit 360 199 km wees.
Gaan na https://cfah.org.za/fullmoon/ en https://cfah.org.za/fullmoon/peace-moon/


