Roosterkoek, boetiekbier, skaapstertjies, wyn, Wagyuburgers
en roomys is maar net ’n paar van die lekkertes wat wag op besoekers by die
Groot Plaasproe van Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober op Sandringham buite
Stellenbosch.
Dié plaasfees, wat verlede jaar so gewild was dat dit
vanjaar ’n volle drie dae duur, bied meer as 150 stalletjies vir ’n
proe-ervaring van alles wat die plaaslewe bied. Nie net is daar plaaskos om van
te kus en keur nie, maar feesgangers kan ook meer as 300 plaasdiere van nader
leer ken én boonop pryse wen met hul braai- en dansvernuf.
Avontuurlustige smulpape word uitgedaag vir ’n “bok en
bier”, wat behels die pas-en-proe van boerbokvleis saam met boetiekboer, wat
eksklusief by die fees beskikbaar is.
Op Internasionale Pinotage-dag op Saterdag 13 Oktober kan
feesgangers ’n verskeidenheid pinotage-wyne geniet tydens ’n proe deur die
Pinotage-vereniging.
Potjiekos, bokmelkkaas, stokbrood, jenewer en bokkoms is net
’n paar van die lekkernye wat te proe en te koop sal wees.
Feesgangers kan ook met hul braaivaardighede spog en inskryf
vir die velisbraaikompetisie op Saterdag 13 Oktober in verskeie kategorieë soos
tradisionele of gourmet-braaibroodjies van 12:00 tot 13:00 of biefstukbraai van
14:00 tot 15:00. Deelnemers moet hul eie bestanddele en roosters saambring.
Braaidromme, hout en vuuraanstekers sal voorsien word.
Voorafinskrywings kan by www.diegrootplaasproe.co.za gedoen
word en gee deelnemers gratis toegang tot die fees. Spar-geskenkbewyse ter waarde
van R6 500 is op die spel. Die beoordelaars is bekende kospersoonlikhede en
-bloggers en lede van die braaispan.
Vermaak sal deur die Broers en wêreldkampioenlyndansers op
die Saterdag aangebied word. Die vermaak skop om 10:00 af met 250 lyndansers, onder
wie twee wêreldkampioene, wat feesgangers sal vermaak én touwys maak om saam te
dans met musiek deur die Wildberries. Daarna volg ’n sokkiekompetisie en
optredes deur Wynand en Chereé en die gewilde Broers.
Kinders kan ook verskeie plaasdiere ontmoet- van
reuse-Percherons tot miniatuurperdjies. Die jonges kan ook op ponies ry, ’n
melkbok rondlei en selfies saam met die diere neem.
Feesgangers kan ook die verskil tussen alpakkas en lamas
leer ken, sien hoe skaaphonde met skape werk en probeer om 50 verskillende
soorte hoenders uitmekaar te ken. Kinders kan ook hul konyne inskryf vir ’n
troetelkonynskou wat op Saterdag om 10:30 deur die Kaapse Konynklub aangebied
word.
Kaartjies is by Computicket en die hek beskikbaar teen R100
vir volwassenes en R30 vir skoliere (gratis op Donderdag en Vrydag). Toegang
vir kinders onder ses is gratis en pensioenarisse betaal op Donderdag en Vrydag
slegs R50. Kaartjies sluit toegang in tot Agri-Expo, ’n
wêreldklas-landboutentoonstelling, en met die kroning van die FNB-suiwelkoningin
en die BKB-rooivleiskoning/in op Saterdag 13 Oktober as hoogtepunt.
Besoek www.diegrootplaasproe.co.za of kontak Agri-Expo by
021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za vir meer inligting.
TygerBurger het ’n stel van vyf dubbelkaartjies om weg te gee
na die Groot Plaasproe. Om te wen stuur vir ons ’n epos na
win@tygerburger.co.za met jou naam, van, nommer en wat jy die meeste na uitsien
by die fees voor 12:00 op Dinsdag 2 Oktober.