Daar gons deesdae ’n paar elektriese sekerheidsvoertuie deur
die strate van Monte Vista en omliggende areas.
Dit gaan oor volhoubaarheid – en dit is meer as net ’n
gonswoord. Met die immer stygende brandstofprys maak dit sin vir
sekerheidsmaatskappye wat baie kilometers op patrollie ry om ’n alternatief te
oorweeg.
District Watch (DW) vermoed hulle is een van die eerste
sekerheidsmaatskappye in die land wat elektriese voertuie gebruik.
Hoewel hulle dít nie met sekerheid kan sê nie, sê Pierre
Gouws, eienaar van DW, maak dit beslis sakesin.
DW het in April vanjaar sy eerste elektriese voertuig, ’n
BMW i3 met ’n bystandkragopwekker, aangekoop. Gouws sê elkeen van hul gewapende
reaksie-voertuie lê tussen 120 en 180 km tydens ’n skof van 12 uur af, wat op
’n aansienlike koste net aan petrol neerkom. Daarteenoor kan ’n elektriese
voertuig 220 km op ’n enkele lading aflê.
Gouws sê dit beteken dat hulle nie hul patrollies hoef te
verminder of hul kliënte se fooie te verhoog weens die hoë petrolprys nie. Dit
het hul werkswyse in so ’n mate verander dat daar in Junie besluit is om nog
twee voertuie aan te skaf.
Die aankoop van die voertuie was ’n aansienlike uitgawe,
maar vanweë minder bewegende onderdele is daar amper geen onderhoud aan die
voertuie nie. Dus behoort hulle vroeër as wat aanvanklik gedink is ’n positiewe
balans op hul belegging te sien, sê Gouws.
Hy sê dit is nie net ’n volhoubare oplossing nie, maar
verhoed die vermorsing van natuurlike hulpbronne, dit dra by tot ’n gesonde
werksomgewing, verminder geraasbesoedeling en is kostedoeltreffend.
Die skelms sal nou baie aandagtig moet luister om te hoor
wanneer een van die voertuie aankom en boonop is daar geen uitlaatgasse nie.
Gouws sê hulle het verskeie aanbiedinge van verskillende
diensstasies, sakeondernemings en woonkomplekse gekry om die voertuie vir kort
rukkies daar te kom herlaai omdat mense besef die teenwoordigheid van DW se
gewapende reaksiebeamptes dien as ’n bykomende afskrikmiddel.
Gouws is oortuig dat hulle op die regte pad is en sê by DW
poog hulle deurgaans om hul koolstofvoetspoor te verklein. Hoewel die
aanvanklike kapitaaluitleg duur was, neem die bedryfskostes met tyd af. Hy sê
dis belangrik vir sakeondernemings wat mededingend en volhoubaar wil bly in ’n
veranderende wêreld om die doeltreffendste oplossings vir hul kliënte te vind.
Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by
briewe@tygerburger.co.za.





