Met nog net twee maande oor, word aspirant-liedjieskrywers aangemoedig om hul oorspronklike liedjie vir die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram in 2026 in te skryf.
Om voornemende deelnemers by te staan, word ‘n aantal gratis liedjieskryf-werksessies oor die land heen aangebied — onder meer op Saterdag 22 November in Fisantekraal.
Inskrywings om deel te wees van hierdie unieke mentorskapprogram in Maart en April aanstaande jaar in die Paarl sluit op 31 Desember. Tien voornemende kunstenaars gaan gekies word om saam met ander musikante met dieselfde passie vir musiek en lirieke hierdie program by te woon, waar bekendes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf hulle gaan touwys maak om ‘n volhoubare loopbaan van musiek te maak.
Die onderwerpe wat aangebied word, wissel van die kuns van goeie lirieke tot hoe om musiek te skryf wat deur radiostasies gespeel gaan word, hoe om kaartjiepryse te bepaal en hoe sosialemediabemarking werk.
“Jy kry soms net een kans. As jy ‘n liedjie het, of woorde het, skryf in. Wie weet – dis dalk jou tyd,” nooi die organiseerdeers.
“Die talent uit hierdie mentorskapprogram het die ATKV genoop om ATKV-Crescendo-produksies te begin om finaliste te help om hul liedjies, albums en musiekvideo’s vry te stel,” sê die projekorganiseerder, Morné van Staden.
Gratis werksessie
ATKV-Crescendo gaan op 22 November die gratis liedjieskryf-werksessie by The Father’s Heart in Milkwoodstraat in Greenville, Fisantekraal aanbied. Dit begin om 09:00. Registrasie begin reeds om 08:30.
Besoek www.crescendo.co.za om vir dié gratis werksessie te bespreek.
. Kunstenaars hoef nie ‘n werksessie by te woon om in te skryf nie. Besoek www.crescendo.org.za om liedjies digitaal in te skryf.







You must be logged in to post a comment.