Igshaan Hugo (heel links) van Cobra Taps het ’n gratis loodgieterskursus in Eersterivier aangebied. By hom is van die kursusgangers.


’n Groep van 20 vroue het onlangs die geleentheid gekry om ’n loodgieterskursus in Eersterivier by te woon.

Die kursus is moontlik gemaak deur Anneline Hartzenberg, ’n gemeenskapswerker van Macassar.

“Ek het ’n bestuurder van Cobra Taps ontmoet en aan hom genoem dat daar ’n behoefte in Macassar is om mense in ’n ambag op te lei. Hy het ingestem en ons het die kursus vir ’n groep vroue aangebied,” sê sy.

Hartzenberg het toe iemand van Eersterivier vertel van die kursus.

“Die persoon het toe gesê Eersterivier sou ook kon baat vind by so ’n kursus en ons het dit gereël. Uiteindelik het 20 mense die kursus bygewoon, maar daar was soveel meer belangstelling. Weens Covid-19-beperkings kon ons net 20 mense toelaat, maar ons beoog om in die nabye toekoms nog kursusse te reël,” sê Hartzenberg.

Volgens haar is hierdie soort kursusse belangrik vir ’n gemeenskap. “Dit gee mense die geleentheid om vaardighede aan te leer sodat hulle moontlik werk kan kry en vir hul gesinne kan sorg. Met die groot werkloosheidsyfer in ons gemeenskappe is dit belangrik dat mense opgelei word sodat hulle geskik vir indiensneming kan wees,” sê sy.

Stuur ’n WhatsApp-boodskap na Hartzenberg by 061 496 0532 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article