Die Stad Kaapstad het verlede week bevestig dat daar vanjaar geen vertragings met die seisoenale grassnyrooster verwag word nie. Tog staan die gras nog geil in Subraad 2-voorstede.
Volgens Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, is die grassnytenders sedert Januarie in werking en is kontrakteurs reeds in al die gebiede aangestel.
“In Brackenfell het die parkedepartement reeds begin gras sny en word daar verwag om teen 21 September klaar te maak, onderhewig aan weerstoestande.
“Vir die Kraaifontein-gebied word werk beplan vir tussen 25 en 30 September, ook onderhewig aan weerstoestande,” het Van der Ross verlede week aan TygerBurger gesê.
In albei die voorstede staan die gras egter nog heuphoogte in die strate van baie woonbuurte.
TygerBurger het betroubaar verneem dat die huidige kontrakteurs in die Subraad 2-gebied tans “nie die mas opkom nie” en dat boetes reeds deur die subraad aan hulle opgelê is.
“Daar was dae wat hulle nie opgedaag het nie en dan ook nie bereikbaar was op hul fone nie. Hul werk is ook nie op die Stad se standaard nie,” sê die bron.
Van der Ross voeg by dat gras in openbare ruimtes, waar veldblomme groei, eers gesny sal word wanneer die blomme klaar geblom en saad geskiet het.
“Met die goeie reën gedurende die winter en verwagte warmer weer in die lente sal groot dele van openbare ruimtes soos parke en sypaadjies binnekort met duisende vroeë lenteblomme oortrek wees. Dit sal lenteblomme en ’n verskeidenheid inheemse plante toelaat om te blom en saad te skiet. Dit sal ook bewaringspogings ondersteun en die estetiese aantrekkingskrag van blomme aan alle Kaapstadse inwoners verhoog.”