Dit is seker maar goeie gene wat maak dat sy ma haar 104de verjaarsdag kan vier, sê Grace Fourie se seun, Danie.
Grace hou immers nie die rekord vir die oudste in haar familie nie – haar sussie het ’n allemintige 105 jaar oud geword.
Die Fouries het verlede Donderdag ’n rustige verjaarsdag by hul huis in Stellenridge gevier.
Grace het heelwat besoekers ontvang – gemeenskapslede, buurtwaglede, die plaaslike raadslid, die dominee en hul kerk se versorger, en hoewel sy met haar gehoor sukkel, skort min met haar verstand en het dit gelyk asof sy die besoeke geniet.
Selfs Geordin Hill-Lewis, die stad se burgemeester, het sy gelukwensinge in ’n kaartjie oorgedra.
Haar enigste seun, Danie, wat saam met haar woon, dien deesdae as ’n soort tolk – wat hard vir haar vrae in haar ore vra voordat sy dan antwoord.
Grace, of “Zachry Elizabeth van Deventer”, soos sy gedoop is, is op 17 Maart 1918 op die plaas Grouheuwel naby Klipdale in die Overberg gebore.
Sy was die laasgeborene van agt kinders, waarvan ses dogters was.
Dis onseker hoe sy die bynaam “Grace” gekry het, maar haar familie het ’n voorliefde vir byname gehad en haar sibbe se name was Katootjie, Baby, Nellie, Chrisjan, Koos, Nonna en Grieta.
Sy het op die plaas Klein Oaks, naby Greyton, grootgeword waar haar pa, Piet, ’n saai- en graanboer was. Haar ma, Truitjie, was ’n tuisteskepper.
Grace, soos al haar susters, het tot in standerd 6 (deesdae gr. 8) skoolgegaan en daarna “ouers opgepas”.
Hulle was ywerige naaldwerkers en sy het tot redelik onlangs toe nog hierdie passie uitgeleef.
Sy het haar man, Jan, later ontmoet en is in die jare veertig getroud, waarna hulle in Napier gewoon het.
Hier het Jan vir die hotel gewerk terwyl Grace ’n tuisteskepper was. Danie is gebore toe Grace in haar dertigs was.
Danie sê daar is nie juis ’n geskiedenis van lewensbedreigende siektes in sy ma se familie nie. Niemand is vroeg aan hartkwale of iets soortgelyks dood nie en die suster wat die jongste was toe sy dood is, was in die sestig. Nog ’n suster het tot iewers in die negentigs gelewe en dan het haar suster Baby 10 jaar gelede die rekord oortref met haar 105 jaar.
Danie sê hy’t self nooit verwag sy ma sal so oud word nie, veral omdat sy 20 jaar terug baie siek geword het. Sy het egter deurgedruk en is nou Stellenridge se eie ouderdom-baanbreker.


