Graad 7 is oorgangsjaar na hoërskool, tiener word

Dis ’n lewensveranderende ervaring vir ’n graad 7-leerder om op sy eerste dag van graad 8 te besef “nou begin ek weer heel onder”.

Faffa Coetzee, hoof van die Laerskool Brackenfell,

Credit: ANNA SMITH

Dis ’n lewensveranderende ervaring vir ’n graad 7-leerder om op sy eerste dag van graad 8 te besef “nou begin ek weer heel onder”.

Maar dis juis dié les wat die kind voorberei vir verandering wat ’n konstante is in die lewe, meen Faffa Coetzee, skoolhoof van die Laerskool Brackenfell.

“Dit gaan baie gebeur. Die volgende keer wanneer die matrikulant universiteit toe gaan en dan weer wanneer die jong mens die werksmark betree,” sê Coetzee.

Daarom is graad 7 ’n belangrike oorgangsfase wat goed bestuur moet word. In die graad word die leerder voorberei om meer verantwoordelikheid te aanvaar.

“Dit is ’n lewensveranderende ervaring vir die kind om laerskool te voltooi. Hy beweeg uit ’n beskermende milieu na ’n vryer omgewing in hoërskool. Daarom neem ons as onderwysers op laerskool ’n doelbewuste besluit om die graad 7-leerder meer verantwoordelikheid te gee ten opsigte van hul werk.

“Graad 7 is nie net die hoogtepunt van die kind se laerskoolloopbaan nie, maar ook die eerste jaar van die senior fase-kurrikulum. Sy eerste tree in graad 7 gaan dus in graad 8 en 9 voort.”

Akademiese druk

In graad 7 word kinders stadig maar seker aan meer akademiese druk blootgestel. Die kind begin leer om self meer leiding te neem.

“Huiswerk sal byvoorbeeld nie meer op die bord neergeskryf word nie en die kind moet nou self verantwoordelikheid neem daarvoor,” sê hy.

Omdat ouers geneig is om hul kinders in watte toe te draai in laerskool, moet onderwysers doelbewuste pogings aanwend om die kind voor te berei op verantwoordbaarheid en aanspreeklikheid.

“Wanneer die kind hoërskool betree is die poel eweskielik groter. Sy sosiale omgewing verander oornag. In Graad 7 was hy sy laerskool se sportster en sy was hoofmeisie. Nou is daar vele sportsterre en vier ander hoofmeisies van ander laerskole. Op laerskool het die kind dalk eerste gestaan in die klas, maar nou is daar ander leerders wat beter vaar.”

Die grootste uitdaging hier, sê Coetzee, is vir die kind om te leer om sy prestasie teen homself te meet en nie teen ander nie. “Baie hoërskoolleerders kry swaar omdat hulle hulself teen ander se prestasies meet. Hulle moet nuut aanpas. Dis ’n moeilike oorgangstyd vir die leerder en die ouer se liefde en ondersteuning speel ’n groot rol in die tyd.”

Faffa sê die druk op die kind in hoërskool is geweldig.

“Hy verloor Saterdag ’n groot rugby wedstryd maar moet dan huis toe gaan en voorberei vir ’n groot eksamen op Maandagoggend. Op laerskool gee ons die kinders nog bietjie ruimte, iets wat nie in die hoërskool gedoen word nie.

Tiener

In die tyd word die kind ook ’n tiener.

“Hormone verander in ‘demone’ met geite en grille in oortreffende trap. Ook hier speel die ouer ’n belangrike rol om die kind se ontwikkelingsfase en oorgang te bestuur.

Coetzee sê dis nou belangriker as ooit dat ouers met hul kinders kommunikeer.

“Die kind moet sy ervaringe met sy ouers kan deel. Die kind moet ’n uitlaatklep hê vir sy frustrasies. Dis egter moeilik in die tienerjare omdat tieners nie graag met hul ouers praat nie. Hul vriende speel nou ’n groter rol in hul lewens.

“Tog moet die ouer sy kind die versekering gee: ‘Ek is daar vir jou as jy my nodig het, kom praat net met my’.”

Coetzee sê die tiener se frontale lob is nog nie ten volle ontwikkel nie en verstaan sy dus nog nie die dinamika van oorsaak en gevolg nie.

“Die kind se brein ontwikkel nog en soos hy die wêreld om hom ervaar verstaan hy nie altyd die konteks daarvan nie. Hy verstaan nie altyd hoekom hy snaakse goed doen, en gevolge ervaar nie. Die jong seun sal byvoorbeeld sy motorfiets by die straat af wheelie sonder om eers daaraan te dink dat hy kan val.”

Ook op ’n emosionele vlak is daar ’n potpourri van faktore wat ’n rol speel in ontwikkeling.

“Die graad 8-meisie stap op dag een by die hoërskool in en sien haar matriekheld.

“Wat ons kalwerliefde noem is vir tieners ’n realiteit. Hulle sny hulle tande in die verhouding tussen meisie en seun, en dit kan oorweldigend wees. Ook hier is ouer-begeleiding belangrik.”

Struktuur belangrik

Hy raai ouers aan om vaste strukture te vestig tydens die belangrike ontwikkelingsfase.

“Sit klein goedjies in plek, soos byvoorbeeld vasgestelde tye vir studie en sport, en selfs sosiale tye. “Dis baie belangrik omdat dit vir ’n kind sekuriteit gee en help om ’n nuwe ritme te vestig. Die kind het struktuur nodig om nie oorweldig te voel nie. Tog is daar nie ’n regte of verkeerde manier nie, sê hy. “Die onvoorwaardelike liefde van die ouer is alles. Gee vir jou kind vlerke, maar hy moet weet jy is sy vangnet.”

You need to be Logged In to leave a comment.