Goodwood 30 jaar as Die Pannekoekman (The pancake man) – steeds op dieselfde hoek buite OK, waar alles begin het. Van ’n nederige waentjie tot ’n bekende gesig in die gemeenskap, het Willie met geloof, volharding en baie liefde vir mense deur al die jare aangehou bak. “Dis soos ’n restaurant – as jy lekker eet, kom jy terug,” sê hy. Lees meer op bladsy 3.
Met ’n breë glimlag en ’n warm hart vier Willie Kemp van Goodwood 30 jaar as Die Pannekoekman (The pancake man) – steeds op dieselfde hoek buite OK, waar alles begin het. Van ’n nederige waentjie tot ’n bekende gesig in die gemeenskap, het Willie met geloof, volharding en baie liefde vir mense deur al die jare aangehou bak. “Dis soos ’n restaurant – as jy lekker eet, kom jy terug,” sê hy. Lees meer op bladsy 3.

“Dertig jaar! Dis ‘n wonderlike gevoel,” sê Willie Kemp van Goodwood met ‘n glimlag wat net so warm is soos die pannekoek wat hy al drie dekades lank bak. “Ek kon dit alleenlik gedoen het met die klante wat my al die jare ondersteun het, en die eienaars van die destydse 7/11 – nou OK op die hoek van Miltonweg en Vasco-boulevard – wat my toegelaat het om daar te staan.”

Willie se pannekoekverhaal begin nederig – ‘n eenvoudige waentjie en ‘n paar pannekoeke op Parow se markie. “Ek het vir drie tot vier uur daar gestaan en net vier pannekoeke verkoop,” vertel hy eerlik. “Ek het opgepak en die kafee-eienaar gevra of ek daar kan staan. Hy het ingestem – dit was die begin.”

Geloof en volharding

‘n Paar jaar later het die lewe egter sy uitdagings gebring. “Ek het ‘n hartomleiding gehad en was lank af. Maar daardie eienaar het my kom opsoek en gevra of ek nie liewer in sy bakkery wil kom bak nie. Hy het selfs personeel aangebied om te help. Hy het besef wanneer mense vir pannekoek kom, koop hulle sommer brood, melk en sigarette ook. Dis daardie soort mense wat my op my voete gehou het.”

Willie sê dit is sy geloof, sy volharding en die voorbeeld van sy ma wat hom geleer het om pannekoek te bak, wat hom staande gehou het. “Ek het geweet ek moet sorg vir my gesin. As jy vir jouself werk, moet jy dit maak werk. Dit vat baie ure weg van jou vrou en kinders af, maar my never give up attitude het my gedra.”

Van houttrappies tot huwelike

Een van die mooiste dinge van Willie se werk is die mense.

“Die kleintjies het op die houttrappie gestaan en inloer by die venster. Nou is hulle groot, getroud en bring hul eie kinders om pannekoek te kom koop,” vertel hy nostalgies.

En dan is daar daardie oomblik wat uitstaan: “‘n Oom van Melkbos het gesê sy vrou soek net ‘n ruiker van my pannekoek vir Moedersdag. Dis die soort goed wat my hart warm maak.”

Van karavaanbotsings tot koesterhoekies

Nie elke dag was maklik nie. “Die slegste oomblik was verlede jaar toe daar ‘n lelike ongeluk was en ‘n motor in my karavaan vasgejaag het terwyl ek besig was om te bak,” onthou hy. Maar selfs dit het hom nie gestop nie.

Hy sê sy huidige staanplek is net 150 meter van sy huis af – ‘n groot seën. “As ek iets vergeet, is dit naby genoeg. En dit is verlig in die aand en beskut teen reën en wind. Dis een van die beste besluite wat ek nog geneem het.”

Die pannekoekkaravaan
Die pannekoekkaravaan

‘Soos ‘n restaurant – jy gaan terug as dit lekker is’

“Mense ry van ver af vir my pannekoek,” sê Willie trots. “Dis soos ‘n restaurant – as jy lekker eet, gaan jy terug soontoe. Maar jy moet lief wees vir wat jy doen, dan kom sukses natuurlik.”

Ná 30 jaar is dit duidelik: Willie se geheime resep is meer as net meel en suiker – dis vol geloof, harde werk en ‘n hart vir mense. Willie sal vandag, Woensdag 21 Mei, ‘n special hê van R5 vir ‘n kaneelsuiker-pannekoek, beperk tot 10 pannekoeke per klant.

Lees ook: Goodwood SAPD se Kapt. Theunis groet

You need to be Logged In to leave a comment.