Goodwood-rugbyspeler gegroet

Kyle Barnes (31), eerstespanspeler van die Goodwood-rugbyklub (GRK) is gister (20 September) oorlede. Barnes was verlede Saterdag 15 September in ’n Superliga C-wedstryd teen die Strand-klub in Strand beseer ná ’n duikslag.


Kyle Barnes (31), eerstespanspeler van die
Goodwood-rugbyklub (GRK) is gister (20 September) oorlede. Barnes was verlede
Saterdag 15 September in ’n Superliga C-wedstryd teen die Strand-klub in Strand
beseer ná ’n duikslag.

Hy is in die Vergelegen Mediclinic in Somerset-Wes
opgeneem waar hy Maandag ’n operasie ondergaan het om drukking op sy brein te
verlig. Sy toestand het later tot kritiek verswak en hy is Dinsdag (18
September) breindood verklaar. Hy was aan ‘n lewensondersteuningstelsel
gekoppel.

Johann Vorster, GRK se voorsitter, het aan TygerBurger
bevestig dat Barnes gister om 09:20 oorlede is.

Gister was ook die agtste
verjaarsdag van Barnes se tweeling. Vorster het gesê die klub het in
samewerking met WP-Rugbyunie Barnes se familie by Nuweland ontvang.

WPRU het
vroeër vandag in ’n verklaring gesê fietse is tydens die geleentheid aan die
tweeling, Caylib en Caylin, oorhandig as verjaarsdaggeskenk.

Die DHL WP
Curriebeker-span was ook teenwoordig om die kinders se dag op te helder. Thelo
Wakefield, president van WPRU, het sy medelye teenoor die familie uitgespreek.

Vorster het gesê Barnes was ‘n gewilde speler en rolmodel.
Hy het sy meegevoel aan die familie oorgedra.

‘n Gedenkdiens vir Barnes sal
volgende Donderdag 27 September om 19:30 by die Goodwood-rugbyklub gehou word.

You need to be Logged In to leave a comment.