Die voorsitter van Goodwood-GPF, Abdallah Sydney, en Goodwood-polisiekantoor se bevelvoerder, kol. Shaun van Wyk, was by die heropening van die slagofferondersteuningskamer.

Die slagofferondersteuningskamer by die Goodwood-polisiekantoor is op Donderdag 25 September amptelik heropen by ‘n geleentheid waaraan verskeie geestelike leiers deelgeneem het.

Die ondersteuningskamer bied reeds vir jare ‘n veilige ruimte vir slagoffers van trauma, veral dié wat deur geslagsgebaseerde geweld geraak is.

Amanda Goniwe, ‘n toegewyde vrywilliger, verduidelik dat die meeste mense wat daar hulp soek, nie altyd fisies kan inkom nie.

“Baie slagoffers waardeer dit net om ‘n opvolgoproep te ontvang – om te hoor iemand vra hoe dit gaan en hoe hulle kop bo water hou. Só ‘n eenvoudige gebaar bring dikwels groot vreugde,” sê sy.

Abdallah Sydney, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, en kol. Shaun van Wyk, bevelvoerder van die Goodwood-polisie.

Ruimte gee aan slagoffers ‘n stem

Elke maand word minstens 20 opvolgoproepe aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld gemaak, afgesien van die talle ander gevalle van rooftogte en verkragting wat ook hanteer word.

“Mense wíl gesels. Hulle wil hul trauma deel en weet daar is iemand aan die ander kant wat regtig luister. Wanneer jy iets traumaties beleef het, soek jy iemand wat jou glo en wat jou pyn erken. Net jou teenwoordigheid kan vir hulle hoop bring,” voeg Goniwe by.

Volgens Zurayda Christians van die Goodwood-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is die kamer tegelyk ‘n mooi én hartseerinisiatief.

“As ons dink aan die mense wat hierheen kom, moet ons onthou dat hul wonde dikwels nie met die blote oog gesien kan word nie. Hierdie ruimte gee hulle ‘n stem en die kans om weer krag te vind.”

Die praktiese ondersteuning is net so belangrik.

Wykraadslid Cecile Janse van Rensburg, verskeie geestelike leiers en die GPF.

Colleen Schoeman, nog ‘n vrywilliger, verduidelik dat baie slagoffers nie na hul huise kan terugkeer nie.

Benodighede

“Kinders het basiese dinge nodig soos tandeborsels, tandepasta, waslappies, seep, inkleurboeke en wolkomberse,” sê sy.

Vir volwassenes is daar ‘n behoefte aan tandeborsels, tandepasta, sanitêre doekies, seep, handdoeke en aanrol-reukweerder. Enige donasies sal met groot waardering ontvang word,” sê sy.

Kol. Shuan van Wyk, stasiebevelvoerder van Goodwood, het beklemtoon dat die kamer ‘n noodsaaklike rol speel.

“Hier werk ons met trauma en vrees. Daarom het ons saam met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum besluit om daadwerklik iets te doen.

“Hierdie kamer behoort nie aan die Goodwood-polisie nie, maar aan die gemeenskap,” sê hy.

LEES OOK: ‘My hek is ‘n toilet vir haweloses’ — sê moedelose Goodwood-inwoner

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article