Louwtjie Rothman (85), ook bekend as Mnr. Goodwood, is
gisteroggend (Dinsdag 26 Junie) ná ’n kort siekbed oorlede.
Sy oudste seun,
Johan, sê sy pa het twee weke gelede ‘n beroerte gehad.
Rothman het sy lewe
lank in Goodwood gewoon en het vroeër ‘n paar termyne as burgemeester gedien
(die eerste van 1970 tot 1974).
Tien jaar gelede het hy ná meer as 42 jaar
diens uit die stadsraad getree.
Johan vermoed dit is ’n rekord vir die langste
ononderbroke diens.
Rothman was nog tot onlangs toe betrokke by die bekende
skoolklerewinkel Rothmans Clothing wat hy destyds by sy pa Elias oorgeneem het.
Rothman word oorleef deur sy vrou Stella (85), sy drie seuns
(Johan, Wilhelm en Lourens) wat soos hy almal in Mei-maand gebore is, ses
kleinkinders (waaronder die bekende musikant Loki Rothman) en een
agter-kleinkind. Johan sê voorlopige begrafnisreëlings is getref vir Woensdag 4
Julie om 11:00 vanuit die NG Kerk Goodwood-moedergemeente.