Geestesgesondheidsprobleme is aan die toeneem in Goodwood, meen die geestesgesondheidsverpleegster by die Goodwood-kliniek.
Op Donderdag 10 Oktober het die kliniek Internasionale Geestesgesondheidsdag gevier met die tema “Mental health is a universal human right”.
“Die doel van Internasionale Geestesgesondheidsdag was om bewustheid van geestesgesondheidskwessies by ons gemeenskap en kliënte te verhoog, en pogings te mobiliseer ter ondersteuning van geestesgesondheid. Die dag bied ’n geleentheid vir ons gesondheidsorgverskaffers en alle belanghebbendes wat aan geestesgesondheidskwessies werk om te deel oor ons dienste, beskikbaarheid en wat meer gedoen moet word om te verseker dat geestesgesondheidsverwante-uitdagings nie gestigmatiseer word nie,” sê Naomi Mingo van gesondheidsbevordering by die kliniek.
Covid-19
“Geestesgesondheidskwessies is oral in ons gemeenskappe. Dit neem tans toe, want die meeste mense kom nou in met geestesgesondheidskwessies ná Covid-19,” sê Frank Travers, geestesgesondheidsverpleër by die kliniek.
Hy meen Covid-19 het eintlik veroorsaak dat mense nou kliniek toe kom oor paniekaanvalle en depressie en geestesgesondheidskwessies is nou aan die toeneem oor kinders wat dwelms gebruik. Travers sê hy behandel tans ’n tiener wat elke liewe dwelmmiddel op die mark gebruik, selfs psigiatriese dwelms.
Dit is dus baie belangrik dat mense moet weet van geestesgesondheidskwessies, want dit begin by alkoholmisbruik, wanvoeding en slegte rookgewoontes.
“Ek kry baie pasiënte wat inkom – meeste ly aan depressie, angsaanvalle en slapeloosheid. Dit raak hulle op verskillende vlakke en hul lewenswyse en die meeste weet nie hoe om dit te hanteer nie. Hulle kom na die kliniek en vra hulp en ons bied vir hulle berading aan.”
Travers meen ná Covid-19 verstaan baie mense nie meer wat hul liggaam aan hulle wil kommunikeer nie. “Hulle is dan depressief oor hul liggaam nie meer dieselfde is nie. Hulle het ook selfmoordneigings omdat hulle dink daar is iets fout met hulle. Die angs in hierdie pasiënte is baie hoog,” sê hy.
Stigma
“Ons gemeenskappe aanvaar nog nie geestesversteurings soos hulle moet nie en die stigma is nog daar.
“Maar tans by die Goodwood-kliniek besef baie hul probleme is nie so groot nie; hulle soek net iemand om mee te praat. Baie bejaardes voel alleen.
“Dit raak jonk en oud. En die probleem gaan nog erger word as gevolg van die dwelmprobleem wat deur huishoudelike kwessies veroorsaak word,” meen hy.
“In Goodwood is daar baie huishoudelike probleme wat ons sien, wat ons bespreek met die families,” sê Travers.
Volgens Travers probeer hulle hul bes by die kliniek, maar geestesgesondheid moet ook ’n prioriteit gemaak word deur die staat.
“Daar is baie tekorte in die gesondheidstelsel en geestesgesondheid trek dikwels aan die kortste end,” sê hy.
eestesgesondheid ’n prioriteit
- Probeer soveel moontlik slaap;
- Handhaaf ‘n gebalanseerde dieet;
- Gebruik jou medikasie soos jy moet, moenie oorslaan nie;
- Gaan vir gereelde opvolgafsprake;
- Moenie bang wees om met ’n professionele persoon oor jou geestesgesondheid te praat nie;
- Plaas jouself eerste;
- Gaan vir jou gewone entstowwe;
- Praat met jou kinders, wees daar vir jou kinders en vra hoe gaan dit met hulle gaan, want baie kinders ly in stilte totdat die probleem te groot raak. Laat hulle klein drome en doelwitte vir hulself stel. Dit kan ook die gehalte van hul lewens verbeter wanneer hulle klein mylpale bereik;
- Kry ’n troeteldier – troeteldiere bly onvoorwaardelik lief vir jou.