‘n Nuwe inwoner van Goodwood het Vrydagoggend ‘n onaangename ervaring gehad toe hy van sy voertuig beroof is.
Benedict Plaatjies woon nog net ‘n maand lank in sy huis in Cookstraat (nie te ver van die N1 Stad-winkelsentrum nie) en sé hy het reeds al daaraan gedink om die hek voor die eiendom met ‘n elektriese een te vervang.
Plaatjies het om ongeveer 06:30 vanoggend (12 Mei) sy grys Chevrolet Captiva uitgestoot en uit die kar geklim om die hek agter hom toe te maak. Die volgende oomblik het ‘n man ‘n pistool op hom gerig en geëis dat hy sy karsleutel oorhandig.Plaatjies sê hy het geweet hy moet net sy samewerking gee en het onmiddelik vir die man gesê dit is nog in die kar. Die man het die pistool op hom gerig gehou terwyl hy in die voertuig geklim het, waarna hy weggejaag het. Plaatjies het oor die pad gehardloop na die Caltex-vulstasie en sê die petroljoggies het eers gedink hy maak ‘n grap toe hy hulle vertel wat gebeur het.
Plaatjies wat onlangs van Brits in Noordwes Kaap toe getrek het, sê sy vrou is nog daar en sal einde van die maand by hom aansluit, maar sy gaan beslis nou nie meer so gretig wees nie. Hy moes inderhaas ook van sy huis se slotte verander omdat van sy huissleutels aan die karsleutels was. Die voertuig het ‘n opsporingstoestel en hy het die maatskappy van die voorval in kennis gestel.
Die voertuig is steeds soek. Die registrasie nommer is HNH161NW. Kontak jou naaste polisiekantoor indien jy die voertuig sien.