Die bestuur van die Golden Arrow-busdiens hoop om nie Woensdag sy dienste op te skort nie.
Golden Arrow het vroeër aangekondig dat sou loononderhandelinge by die Suid-Afrikaanse Padpassasiersbedingingsraad (South African Road Passengers Bargaining Council) tussen die vakbonde Satawu, Tawusa, Towu, Numsa en Taswu en die eienaars van vervoermaatskappye misluk, en daar met ’n nasionale staking voortgegaan word, hy dienste gaan opskort.
Die vakbonde dreig met ’n staking as daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie.
Volgens Bronwen Dyke-Beyer, Golden Arrow-woordvoerder, is dit beleid dat dienste opgekort word as daar ’n staking is.
“Ons doen dit vir die veiligheid van ons personeel en passasiers. Ons hoop egter dat onderhandelinge suksesvol gaan wees en ons nie so ’n drastiese stap hoef te neem nie, maar as die voorgenome staking voortgaan, sal ons nie ’n ander keuse het nie,” sê Dyke-Beyer.
Dyke-Beyer sê as die staking voortgaan sal alle dienste van 18 April af tot verdere kennisgewing opgeskort word.
“Passasiers se maand- of weekkaartjies sal geldig wees wanneer dienste weer begin. Ons sal gedurig deur die media met passasiers kommunikeer oor wat by die onderhandelingstafel aan die gebeur is,” sê sy.
Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.briewe@tygerburger.co.za.