Talentvolle jongelinge van Kuilsrivier en omgewing het die afgelope Saterdag (19 Augustus) kans gekry om hul staal te wys by die uitdunronde van die Suidoosterfees se Talentsoektog, wat by die Hoërskool Sarepta plaasgevind het.
Die gewilde kompetisie is weer op dreef ná die ontwrigting van die onlangse taxistaking, wat veroorsaak het dat die uitdunrondes in Khayelitsha uitgestel moes word.
Gantane Kusch, wat die rol van pastoor Siya Thuli in kykNET se Suidooster speel, was Saterdag in die beoordelaarspaneel, wat geen maklike taak gehad het nie.
Veral in die sangafdeling was die kompetisie straf. Zara Mansfield (15) van Kuilsrivier, Sibusiso “Sibz” Ngcume (20) en Amoré “AmZo” Maasdorp (27), albei van Delft, is almal deur na die volgende ronde.
Die Ilingomsa Lethu tradisionele dansers van Khayelitsha het ook Saterdag deurgedring om aan te sluit by die eerste twee semifinaliste, Jetro Jones en Meadow Watson, wat op 12 Augustus in Grassy Park aangewys is.
Die algehele wenners sal ná ’n reeks uitdunne by volgende jaar se Suidoosterfees aangewys word.
Neem deel
As jy in jou gemeenskap bekend is vir jou uitsonderlike talent, doen aansoek vir deelname. Sangers, dansers, skerpskertsers en musikante van nege tot 35 jaar kan inskryf.
Daar is ook ’n ope afdeling, À la carte, vir kandidate wat in ander afdelings uitblink.
Inskrywingsvorms is in Afrikaans en Engels op www.suidoosterfees.com beskikbaar en moet organiseerders ’n week voor die uitdunrondes op Vrydag om 12:00 bereik.
Uitdunrondes vind op die volgende datums by die onderskeie plekke plaas:
- Vrydag 25 Augustus: Hoërskool Hindle, Delft;
- Saterdag 2 September: Repetisielokaal 207, Kunstekaap (Artscape);
- Saterdag 9 September: Northlink-kollege, Tygerberg-kampus, Panorama;
- Saterdag 16 September: Hoërskool Cedar, Mitchells Plain;
- Saterdag 23 September: Dance for All, Athlone.
Die Talentsoektog word moontlik gemaak deur die ondersteuning van TygerBurger, People’s Post, City Vision, Dance for All en kykNET se gewilde sepie, Suidooster.
Agt Suidooster-sterre gaan by die onderskeie oudisies en uitdunrondes as beoordelaars teenwoordig wees.
Vanjaar is daar weer opwindende pryse op die spel. Die algehele wenner ontvang R10 000 en die beste danser kry ’n studiebeurs vir een jaar by die Kaapse dansskool Dance for All.
Uitblinkers word ook opgeneem in professionele produksies by die 21ste Suidoosterfees in 2024.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die departement van sport, kuns en kultuur, asook die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, NATi, kykNET, die ATKV en Kunstekaap.
Besoek TygerBurger se Facebookblad vir nog foto’s.


