Wanneer dit blom, sal die gebiede velde van kleur vertoon met ‘n verskeidenheid lenteblomme, wat inwoners kan geniet.


Soos die bloeisels die komende lenteseisoen blom, só sal dit in sommige gebiede onversteurd bly groei, het die Stad Kaapstad verlede week in ’n mediaverklaring aangekondig.

Elke jaar as dit lente raak, begin die parke-afdeling sy No Mow-veldtog – nie net om die blomme te laat blom nie, maar ook ten gunste van bewaringspogings, sê die Stad.

Die veldtog sal van Augustus tot einde November by spesifieke openbare ruimtes van stapel gestuur word om voorsiening te maak vir lenteblomme en ’n verskeidenheid inheemse plante om te blom en sade te skiet.

’n Omvattende lys van die gebiede waar geen of slegs gedeeltelike grassny sal plaasvind, is deur die Stad vrygestel.

Wyk 70

Altesaam 19 gebiede in Wyk 70 val in dié “rooi gebiede”.

Die doel is om ekologiese prosesse te beskerm wat die groei van kenmerkende fynbos-plantegroei bevorder.

Ronel Viljoen, Wyk 70-raadslid, sê aan TygerBurger dat die wyk baie betrokke is by die hervestiging van renosterveld in die gebied.

“Daar is verskeie instansies betrokke, waaronder die Tygerberg-natuurreservaat, Welgemoed CID, die Wildflower Stepping Stones-projek en die Greater Kenridge-komitee. Dié gebiede word noukeurig vasgestel met die hulp van die departement van biodiversiteit.”

’n Aantal openbare ruimtes is bewaringskanale, wat verbind word met ander oop ruimtes, bewaringsgebiede, natuurreservate en nasionale parke, wat ’n gesonde netwerk van onderlinge verbinde omgewings verseker.

Wanneer dit blom, sal die gebiede velde van kleur vertoon met ’n verskeidenheid lenteblomme, wat inwoners kan geniet.

“Inwoners moet asseblief gaan kyk na die mooi blomme in die afgesperde gebiede.

“Daar is al verskeie plante geïdentifiseer wat op die Stad se rooilys verskyn, en ek moedig almal aan om betrokke te raak en op die uitkyk te wees vir die geleentheid om saam met die spanne te stap en te sien wat als in hul omgewing groei,” sê Viljoen.

Parke en ontspanning

Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, meen die grassny-gesprekke kry momentum hierdie tyd van die jaar, “en ons is mal oor die passie en entoesiasme van almal wat betrokke is”.

Sy sê die Stad het openbare ruimtes, parke, groenstroke en padreserwes geïdentifiseer wat die tuiste is van sensitiewe plantegroei.

“Dit is die gebiede wat nie oor die volgende paar maande gesny sal word nie.

“Inwoners het ook die geleentheid om te versoek dat ruimtes in hul gemeenskappe by die ‘nie sny-lys’ gevoeg word. Ek wil wel almal daaraan herinner dat enige sodanige aansoek die ondersteuning van hul bure en breër gemeenskap sal vereis,” het Van der Ross bygevoeg.

Blomme is noodsaaklik vir die bestuiwingsproses van die meeste saadproduserende plante. In dié tyd kan ’n verskeidenheid voëls, skoenlappers, motte en bye ook waargeneem word.

Die No mow-veldtog beklemtoon ook die Stad se pogings om ’n meer omgewingsvriendelike en volhoubare snypraktyk in Kaapstad te handhaaf.

Die departement van ontspanning en parke sal aan die einde van November met sy snyprogram in parke en openbare oop ruimtes begin, sodra die endemiese blomme voldoende sade geproduseer het.

Inwoners kan aansoeke om die sny van gras in hul spesifieke gebiede te staak, skriftelik indien per e-pos na RP.Enquiries@capetown.gov.za. ’n Omvattende lys kan gevind word by https://bit.ly/3yiJHbW.

You need to be Logged In to leave a comment.