Haar familie gaan deur ’n moeilike tyd sê ’n gewilde Afrikaanse sangeres nadat haar ouers aan R23m se bedrog skuldig bevind is.
Suzanne Uys, wat onder die verhoognaam “Suzanne” optree, se ouers Wessel (55) en Marianne Germishuys (52), is op 20 Julie gesamentlik ’n straf van 11 jaar opgelê.
Hulle het in ’n pleitooreenkoms skuld beken op 188 aanklagte van bedrog.
“My pa het ’n groot fout begaan en neem verantwoordelikheid vir sy dade,” het Uys by navraag gesê.
“Dis duidelik dat die pleitooreenkomste nie volledig bespreek word in die media nie. My ouers het skuldig gepleit aan bedrog en die staat het aanvaar dat dit nie vir selfverryking was nie.”
Uys het haar misnoeë uitgespreek oor die “indruk” wat geskep word dat haar ouers R23m gesteel het. “Dit is glad nie die waarheid nie.”
Volgens kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke,is die egpaar, wat onder meer vir Zanco Engineering Services BK en Towers for Africa gewerk het, in Julie 2015 in hegtenis geneem.
Dit kom nadat hulle tussen 2009 tot Augustus 2013 fiktiewe fakture geskep het. Hierna het hulle die bestaande faktuurafslagfasiliteite wat hulle met Nedbank gehad het, misbruik deur verskeie bedrieglike transaksies te skep namens debiteure wat nie bestaan nie, het Ramovha gesê.
Wessel en Marianne, wat in Brackenfell bly, is verskillende vonnisse opgelê.
Wessel is 14 jaar tronkstraf opgelê, waarvan ses jaar opgeskort en 8 jaar direkte tronkstraf is.
Marianne is 8 jaar tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is, en sal 3 jaar in huisarres wees.
Suzanne was ook op haar dag ’n kinderster en het vroeg al op Noot vir Noot opgetree.
Marianne het by navraag gesê sy sal graag “haar kant van die storie” wil vertel, maar het teen druktyd nie terugkom met inligting nie.