Nie eers ’n kerk is gevrywaar wanneer dit by misdaad kom nie.
Hartelose boewe het verlede Vrydagnag gewag vir beurtkrag om by die Belmont Worship Tabernacle in Kraaifontein in te breek en die kerk leeg te dra.
Dié kerk het ’n verlies van sowat R100 000 bereken.
Die inbraak het tydens fase 6-beurtkrag plaasgevind toe daar ’n vier ure lange donkerte was.
Volgens past. Randall Pienaar van die Volle Evangelie Kerk van God was dit die vierde kerk in die gebied wat in een maand deur misdadigers geteiken is tydens beurtkrag. Die ander kerke was Nama-gemeente, Kerk van God en die Ou Apostoliese kerk.
“Baie van ons goed is gesteel, soos die kragversterker, monitors, luidsprekers, kondensators, koordlose mikrofone, dromme en simbale, nagmaalbekers en ook die TV-stel.
“Selfs die krane in die kombuise en toilette is gesteel. Ons het ook ontdek dat die alarmstelsel uit die muur geruk is,” sê Pienaar.
Die inbraak is Saterdagoggend deur een van die kerk se sangbegeleiers ontdek.
Pienaar sê lidmate het Saterdagaand in die kerk geslaap vor ingeval die diewe sou terugkom en kerkgangers kon op Sondag nie die kerkdiens bywoon nie, omdat die polisie nog besig was om vingerafdrukke te neem.
Hy waarsku ander kerkleiers om veral tydens beurtkrag versigtig te wees.
“Maak seker jou alarmstelsels werk en het genoeg batterykrag om dit aan te hou wanneer daar beurtkrag is.
“Die duiwel is uit daarop om die kerke te wil vernietig. Hulle wil ons magteloos maak, maar ek verklaar dat die duiwel ’n leuenaar is; God sal nie toelaat dat ons kerke ly nie.”
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi ondersoek die Kraaifontein-polisie ’n saak van huisbraak en diefstal.
“Die verdagtes het gevlug en moet nog in hegtenis geneem word,” sê hy.
Indien jy iets van die diefstal weet of genader is om gesteelde goedere te koop, kontak past. Randall by 073 247 7012 of die Kraaifontein-polisie by 021 980 5500.


