Gemoedere in Bellville-Suid het Woensdagoggend hoog geloop nadat twee gesinne by hul huise uitgesit is.
Wetstoepassingslede het rubberkoeëls afgevuur nadat inwoners bande en ander huisware in die straat aan die brand gesteek het.
Volgens Margaret Witbooi (38) wat in ‘n woonstel in Stilwaneystraat bly, het “sowat 30” wetstoepassingslede net voor 10:00 by haar woonstel opgedaag.
Witbooi bly saam met haar vyf kinders, man en broer in die woonstel, wat deur die Stad Kaapstad besit word.
Wetstoepassingslede het die familie se goedere begin uitdra en voor die woonstelblok gesit.
Dit is toe dat gemeenskapslede en wetstoepassing slaags geraak het.
Witbooi sê sy bly al vir vier jaar in die woonstel. Dit is eers aan haar man, Sofia Pretorius, toegeken, en nadat Pretorius oorlede is, het die gesin aangebly.
Nou wil stadsamptenare glo die woonstel aan ‘n ander gesin, van buite die gebied, toeken.
Talle mense het aan TygerBurger gesê hulle is gefrustreerd omdat daar ‘n tekort aan behuising in die gebied is. Waar woonplekke wel toegeken word, word dit sleg in stand gehou.
Mercia Kleinsmith, raadslid in Bellville-Suid, sê die betrokke gesinne weet al die afgelope jaar van die beplande uitsetting.
Sy sê sy verstaan nie hoekom gemeenskapslede altyd oor onwettige bedrywighede in die gebied kla nie, maar dan ontsteld is as daarteen opgetree word nie.
Wetstoepassing en die polisie se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.



