Diegene met breipenne is onlangs herinner aan hoekom hulle doen wat hulle doen.
Linda Louw, een van die koördineerders, het al die vroue wat gereeld ’n bydrae lewer tot ’n projek om kinderslagoffers by te staan, genooi om ’n praatjie by Jubileum-aftreeoord by te woon. Hierdie projek is 30 jaar gelede deur Ronel de Jager, afgetrede senior staatsaanklaer by die Bellville-landdroskantoor, begin.
Die projek gaan steeds van krag tot krag en kry gereeld nog bejaardes by wat graag hul handewerk aanbied. Die spreker was Anjohine Smith, ’n hofvoorbereidingsbeampte wat by die Blue Downs- landdroskantoor werk. Haar hooftaak is om kinders voor te berei om getuienis te lewer.
Smith word ook gereeld genooi om praatjies oor bewusmaking en bemagtiging te lewer vir kinders met betrekking tot boeliegedrag, en internet-boeliegedrag asook seksuele video’s en die gevaar van boodskappe op sosiale media.
LEES MEER | Marionette wys vir jong kinders wat ’n morsjors is
HofvoorbereidingSmith het op Donderdag 17 Oktober die bejaardes van twee aftreeoorde toegespreek. Die besoek is gereël om saam te val met ’n koek-en-tee-middag waar al die bydraers bedank is vir hul voortdurende ondersteuning van die projek. Sy het gepraat oor hofvoorbereiding en hoe hulle veral die kinderslagoffers bereik om die lig te sien (program Ke Bona Lesedi).
Smith het vertel die skenkings speel ’n groot rol in die opvoeding en beveiliging van die kinders – hoe dit onder meer vertroosting bied en deel van afsluiting vir hulle is. Ook gebruik sy ’n pop genoem Lente, haar trauma-pop, vir afsluiting. Dit is ’n pop wat al verniel is deur vorige slagoffers. Sy sê weer: wonde wat nie sonskyn kry nie, kan nie genees nie. Met ander woorde, daardeur word hulle aangespoor om oor hul seerkry te praat.
Die groep sê “die tee-middag was voorwaar ’n baie leersame middag wat vreeslik geniet is deur een en elk wat dit bygewoon het”. Daar is verskeie handwerkartikels aan Smith oorhandig, wat sy aan slagoffers gaan oorhandig om sekondêre trauma by hulle te voorkom.