Aan die vooraand van die feestyd het ’n gesin van Bonteheuwel alles in ’n brand verloor. Hulle het net die klere wat hulle Sondagaand aangehad het oor.
Avron Jacobs, sy vrou en drie kinders het Sondag by ’n familielid gekuier toe sy skoonsuster hom bel. “Sy het gesê ons moet vinnig kom die huis is aan die brand. Omdat die deure gesluit was kon ons niks red nie. Alles het uitgebrand,” sê ’n hartseer Jacobs.
Volgens hom kan hy nie sê wat die oorsaak van die brand was nie, omdat hy nie daar was nie. “My skoonsuster se kinders het in die agterplaas gespeel en gesien hoe ’n ander huis brand. Ek vermoed die vlamme het na ons toe oorgespoel en dis hoe my huis aan die brand geslaan het. Ons moet nou die stukke van ons lewens optel, maar dit gaan moeilik wees. My jongste kind is slegs vyf jaar oud,” sê hy.
Angus McKenzie, plaaslike raadslid, sê die brand het groot skade veroorsaak, maar die gemeenskap gaan die gesin bystaan. “Ons het dadelik ’n Go Fund Me-veldtog van stapel gestuur waarmee ons die gesin wil ondersteun. Hierdie is ’n gemeenskap wat omgee vir mekaar en al sal ons nie alles wat hulle verloor het kan vervang nie, sal elke bietjie help. Ons is net dankbaar dat niemand tydens die brand tuis was nie, anders was dit ’n groter tragedie,” sê McKenzie.
McKenzie het weer ’n beroep op die gemeenskap gedoen om brandbewus te wees. “Hoewel ons nie weet wat die oorsaak van die brand was nie, vra ons dat inwoners asseblief versigtig moet wees. Inwoners moet hul elektriese toebehore voor beurtkrag uit die muurproppe verwyder en eers agterna weer aansit. Daar is ook mense wat kerse tydens beurtkrag gebruik en ons wil hê hulle moet nie kinders sonder toesig naby kerse los nie. Hierdie goed kan groot skade veroorsaak,” sê hy.
Indien jy ’n bydrae wil maak om Jacobs en sy gesin te help, stuur ’n WhatsApp-boodskap na McKenzie by 082 444 185.


