Skoolhoof: ‘Sagte reus’ finaal gegroet

Hy het die aarde verlaat terwyl iets doen waarvoor hy altyd lief was: omgee vir ander. Met hierdie woorde is daar vanoggend by die NG Moedergemeente in Durbanville hulde gebring […]


Hy het die aarde verlaat terwyl iets doen waarvoor hy altyd lief was: omgee vir ander.

Met hierdie woorde is daar vanoggend by die NG Moedergemeente in Durbanville hulde gebring aan die vermoorde dr. Anton Ewald Diedericks wat op Dinsdag 18 Oktober – vier dae ná sy 56ste verjaardag – vermoor is.

Konst. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê ’n moordsaak word ondersoek.

Volgens inligting is Diedericks omstreeks 13:00 die betrokke dag op die hoek van Dickens-rylaan en Sierraweg, Mandalay in Khayelitsha aangeval en vermoor. Rwexana het gesê die slagoffer het ’n skietwond opgedoen.

“Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek,” het sy gesê.

Die pa van twee is vandag om 09:00 deur familielede, vriende, kollegas, skoliere en mede-lidmate finaal gegroet. Die begrafnisdiens is deur dr. Tinus van Zyl behartig.

Tydens die huldeblyk wat deur sy jarelange vriend en kollega, Ian Pilkington, gelewer is, is Diedericks, adjunk-skoolhoof by die Academy Private School in Klein Zevenwacht, Kuilsrivier en inwoner van Aurora, Durbanville, beskryf as ’n persoon vir wie almal lief was.

Hy  bestempel as iemand wat altyd vir ander omgegee het.

Diedericks, wat ook deur Pilkington as ’n “gentle giant” beskryf is, is bestempel as iemand by wie jy altyd kon kers opsteek, ’n veelsydige man, ’n vader-figuur, as ’n persoon met ’n ontsaglike uithouvermoë, veral tydens maratons.

“Hy het omgegee vir sy leerlinge en het altyd alternatiewe maniere gekry om die leerproses vir hulle meer interessant te maak,” het Pilkington onthou.

Sowat 150 kersies is deur roubeklaers aangesteek ter nagedagtenis aan Diedericks.

“Anton, dankie vir jou voortdurende sorgsaamheid vir my en die kinders. Jy was altyd daar vir ons in soveel opsigte wat jou onvervangbaar maak. Jou invloed sal die kinders lei tot volwassenes wat onvoorwaardelik kan liefhê.

“Jy het ons elkeen in ons eie uniekheid aanvaar. Die huis is leeg sonder jou,” lei die herinneringsboodskap van sy vrou.

Die stampvol kerkbanke is ook deur skoliere van die privaatskole Curro en Academy gevul.

Paddy Attwell, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, het gesê volgens hul inligting het Diedericks die dag van sy dood aangebied om ’n leerder by die skool wie siek was, huistoe te neem. Die leerder kon nie haar familie op die dag in die hande kry nie.

“Vier mans het sy voertuig na bewering genader nadat hy haar afgelaai het en een van hulle het hom glo geskiet,” het Attwell gesê.

Hy het gesê die voorval is tragies en dat die Diedericks-gesin en skoolgemeenskap in hul gedagtes is.

“Hoewel dit ’n privaatskool is, wil die departement tog al die nodige ondersteuning bied,” het Attwell gesê.

’n Kringbestuurder en skoolsielkundige het reeds die skool besoek om ondersteuning en trauma-berading aan te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.