Generasies span saam op Kokkedoor: Son & See

Die gewilde koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, stel ‘n nuwe reeks bekend vir die tiende seisoen, Kokkedoor: Son & See, en daag nou deelnemers van dieselfde familie uit om in te skryf. Die […]


Die gewilde koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, stel ‘n nuwe reeks bekend vir die tiende seisoen, Kokkedoor: Son & See, en daag nou deelnemers van dieselfde familie uit om in te skryf.

Die reeks is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & Vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Buiten Kokkedoor, wat in 2012 vir die eerste keer uitgesaai is, en Kokkedoor: Vuur & Vlam, was daar ook Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.

Nou is kykNET egter op soek na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember ‘n hoofgereg op die kykspyskaart gaan wees, met twee nuwe beoordeelaars, Herman Lensing en Yolandi Abrahams, wat sal besluit watter deelnemers koning kraai.

Smaakmaker beoordeel

Dié nuwe aanbieders het geen bekendstelling nodig nie en word geken as kokke wat al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap het.

Woonagtig in Welgemoed, spog Lensing met talle topverkoperboeke op sy kerfstok en is hy onlangs as Netwerk24 se smaakmaker van die jaar aangewys. Hy sê hy droom al van 2013 daarvan om ‘n Kokkedoor-beoordelaar te wees.

“Ek sien uit na die lekker kos wat opgedis gaan word want ek is mos verslaaf aan eet,” vertel hy aan TygerBurger.

As beoordelaars sien hy en Abrahams daarna uit om die deelnemers se tipiese stories, wat uniek is aan die Suid-Afrikaanse kultuur en geregte, te leer ken. “Hier sal egte herinnerings oor familie-ervarings van kosmaak deur die deelnemers se ervaring in die nuwe seisoen gedeel word, om só hul stories met kos te vertel.”

Volgens Kokkedoor se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, is daar ‘n paar unieke bestanddele vir Kokkedoor: Son & See wat dit van die vorige reekse onderskei.

“Mense moet as ‘n span van twee familielede inskryf en daar moet boonop ‘n generasiegaping van minstens 20 jaar tussen die twee spanlede wees,” sê Müller. “Dit kan byvoorbeeld ‘n ouma en ‘n kleindogter, ‘n ma en seun, skoonsusters of niggies en neefs wees – solank daar ‘n soort familieverband is en die jongste spanlid minstens 18 jaar oud is.”

Nóg ‘n verskil waarna kykers kan uitsien is dat daar vir Kokkedoor: Son & See slegs na huiskokke gesoek word en dat daar nie deelnemers met ‘n kwalifikasie as professionele sjef gaan wees nie. So vertel Lensing: “Ons wil baie graag die vernuwing tussen die twee generasies uitlig. Daar is die ouer generasie wat geleer kook het uit ‘n resepteboek en familieresepte, wat hier sal saamsmelt met die jonger generasie wat meer digitale invloede in hul kookvernuf inhou en iets nuuts na die tafel toe bring.”

Somerfeesmaal

Hy deel graag hoe die Son & See-tema die nostalgiese Suid-Afrikaanse somervakansie by die see in Kersfeestyd vier.

“Die uitdagings is daarop gemik om die tema van ‘n somerfeestyd in die son by die see, en dit wat ons vakansietye so lekker, eg Suid-Afrikaans maak, uit te beeld.”

Volgens Yolandi, wat ook ‘n restaurateur is en in 2017 as die wenner van SARIE se voorbladgesigkompetisie aangewys is, wou sy nog altyd haar kosvernuf in die media deel. “Dis beslis nie aldag dat so ‘n geleentheid oor jou pad kom nie, en ek gryp dit met albei hande – en sommer ook met my voete – aan,” sê sy.

Lensing beskou dit as ‘n groot taak wat op sy skouers rus om daardie intieme geskenk wat spanmaats met hom in die kompetisie kom deel, met respek te hanteer. “Ja, ek gaan eerlik wees met my terugvoer, maar ek belowe ek is so lief vir kos dat jy nooit gaan wegstap en minder werd voel in die kombuis nie.”

Skryf in vir Son & See

Wat jy alles moet weet om in te skryf:

•Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ‘n e-pos na navrae@kokkedoor.tv.

•Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 30 April.

•Die jongste lid van die span moet minstens 18 jaar oud wees en die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet minstens 20 jaar wees.

•Daar móét ‘n familieverwantskap wees, soos ‘n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs.

•Oudisies sal in Kaapstad gehou word tussen 5 en 9 Mei. Verfilming is van 20 Junie tot 3 Julie in Struisbaai.

You need to be Logged In to leave a comment.