Die atlete van die Laerskool Gene Louw het die seisoen op 6 November op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n voortreflike vertoning by die Laerskool Bastion se jaarlikse atletiekbyeenkoms.
Altesame 85 atlete het teen atlete van 13 ander laerskole van oor die Wes-Kaap heen meegeding en die meeste punte aangeteken om sodoende as die algehele wenners uit die stryd te tree.
“Ons is veral aangenaam verras dat ons dit kon vermag ten spyte van die afwesigheid van al ons topatlete in graad 6, wat op ‘n leierskamp was en dus nie kon deelneem nie,” sê Marinda Strydom, die skool se atletiekhoof. Dit was vir ons ‘n besonder besige, maar suksesvolle seisoen. Atletiek is gesond by Gene Louw!”

Die skool het ook na afloop van sy interhuisatletiekbyeenkoms op Woensdag 22 Oktober trofeë oorhandig aan sy vier veelsydigste atlete, wat die beste by dié byeenkoms presteer het. Die skool se drie huise – Sultana, Barlinka en Hermitage – sê mekaar elke jaar die stryd aan.
Die victor en victrix ludorum in die junior afdeling (gr. 1 tot 3) is die tweeling Ockie en Behati Muller (Huis Barlinka). In die senior afdeling (gr. 4 tot 7) is Ruben le Roux (Barlinka) en Milea Jacobs (Hermitage) is as victor en victrix ludorum aangewys.



You must be logged in to post a comment.