Wyksraadslid Cheryl Visser, Pabelo Prince Maake van die Stad Kaapstad en Christine Wilkinson by die opgeknapte Piketberg Park in Panorama vroeër.

Die voltooiing van ‘n opknappingsprojek onlangs by ‘n openbare park in Panorama het die gemeenskap daar opgewonde gelaat vir toekomstige soortgelyke projekte.

TygerBurger het verlede week berig oor die opknap van Piketbergpark in Panorama, (“Nuwe pretpark geopen”, 1/10). ‘n Splinternuwe fiets- en speelbaan vir kinders is daar aangebring, danksy ‘n vennootskap tussen die Stad Kaapstad en die plaaslike gemeenskap. Die park is uit Wyk 1 se wyksbegroting gefinansier, het Chery Visser, wyksraadslid, gesê.

Helga Easom, voorsitter van die PWP-inwoners en belastingbetalersvereniging, het die opknappingswerk verwelkom.

“Dis wonderlik om te sien dat so ‘n pragtige baan vir kinders in ons gebied voorsien word om te geniet terwyl hulle in die buitelug oefen. Dis altyd lekker om die opgewonde gille van kinders te hoor wat goeie outydse pret ervaar.

“Ons sal die gebruik van die baan monitor, en as dit goed benut word, sal ons ons wykraadslid nader en haar versoek om moontlik nog een of twee fiets- en speelbane te finansier wat elders in Plattekloof, Welgelegen of Kleinbosch gebou kan word,” sê Easom.

Sy sê hulle dankbaar teenoor Visser vir die geld om die baan te bou, sowel as aan Christine Wilkinson, ‘n inwoner, vir die ontwerp en verf van die verkeerstekens op die baan. Hulle spreek ook hul dank uit aan Julian Wesson, ‘n inwoner en wykskomiteelid, vir die verskaffing van die blomme vir die blombeddings by die park, sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.