Die gemeenskap van Bishop Lavis is in rou gedompel nadat ’n vyfjarige seuntjie verlede week koelbloedig doodgesteek is.
Xavier Mitchell is glo doodgesteek by die huis van sy oppasser. Haar vermoedelik verstandelik gestremde broer is weens die voorval in hegtenis geneem.
Xavier het by die plaaslike daghospitaal aan sy wonde beswyk nadat ’n buurman met hom daarheen gejaag het.
Die oppasser was glo na ’n nabygeleë kafee en het die seun in die sorg van haar broer gelos.
Xavier se ouers was ten tyde van die voorval by hul onderskeie werksplekke en het hulle ná die voorval huis toe gehaas.
Hulle het nog ’n jonger seun, wat ook by die oppasser woon.
Sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het die voorval aan TygerBurger bevestig.
“Die Bishop Lavis-polisie het ’n klagte in Sky-weg bygewoon. By die adres is die polisie meegedeel dat ’n vyfjarige met ’n mes gesteek is. Toe hulle by die hospitaal kom, het hulle die lewelose seuntjie met drie meswonde in sy rug gevind,” sê Adonis.
Adonis sê ’n man van in die veertig is in verband met die moord in hegtenis geneem. “Die man is glo geestelik versteurd, maar die ondersoek duur voort,” sê sy.

