Geliefde verpleegassistent vir selfoon vermoor

Twee minderjariges is Sondag in hegtenis geneem weens die moord van die plaaslike verpleegassistent Bevan Dudley (32) van Scottsville – vermoedelik vir sy selfoon en ’n bankkaart.


Twee minderjariges is
Sondag in hegtenis geneem weens die moord van die plaaslike verpleegassistent
Bevan Dudley (32) van Scottsville – vermoedelik vir sy selfoon en ’n bankkaart.

Sy liggaam is Saterdag
in die vroeë oggendure op die middelmannetjie van die N1-snelweg tussen
Okavangorylaan en Brightonstraat deur die bestuurder van ’n verbygaande vragmotor
daar aangetref.

Sy gebroke ouer suster,
Viola Dudley, het Maandag aan TygerBurger vertel dat die verdagtes aan
Bevan bekend was en nog die Vrydagaand van die moord saam met hom by ’n
partytjie was.

“Hy het ná werk
oudergewoonte by sy beste vriend se huis naby ons ouerhuis in Fickstraat gaan
kuier. Hulle het gedans, musiek gemaak en gesing. Een van die verdagtes was ook
daar en het elke naweek saam met hulle uitgehang. Hy was die hele aand saam met
hulle en is te sien op video’s wat gemaak is.

“Dit het laat geword
en Bevan wou huis toe gaan, maar die verdagte het sy foon gegryp en weggehardloop.
Bevan het hom agternagesit en dit was die laaste keer wat hy lewendig gesien
is.

“Sy vriend het dadelik
die selfoon begin bel, maar daar was geen antwoord nie. Sowat ’n uur later het
die verdagte teruggekom na die huis en toe hy gevra word waar Bevan is, het hy
net gesê hy weet nie. Hy het skoon klere aangehad en het huilerig begin raak.
Bevan se foon het steeds net gelui.

“Op pad na my ouers se
huis toe om na Bevan te gaan soek, het ’n polisiemotor by hulle gestop en
’n  beampte, wat aan hulle bekend is, het hulle meegedeel dat ’n liggaam
op die N1 gevind is.”

Familie en vriende het
hulle dadelik na die toneel gehaas waar die polisie reeds die gebied afgesper
het.

“Sy liggaam was van
kop tot tone vol bloed en sy bors en nek was vol steekwonde. Al die name van
die partytjiegangers en die verdagte is by die toneel aan polisie verskaf. ’n
Ooggetuie het later onthul dat nog ’n verdagte by die moord betrokke was,” sê
Viola.

Al twee die verdagtes
is later by hul ouerhuise gevind en Viola is  deur die polisie meegedeel
dat Bevan se selfoon en bankkaart in hul besit gevind is. Die polisie het ook
bebloede klere gekry wat weggestuur is vir forensiese toetse.

“Met ondervraging het
een van die verdagtes glo aan die polisie beken dat hulle die foon en kaart vir
dwelmgeld gesteel het. Hulle het Sondag aan die polisie gaan uitwys waar die
hulle die wapens weggegooi het.”

Al twee die verdagtes
is van moord aangekla en het Maandag in die hof verskyn.

Bevan werk al tien
jaar as teater-verpleegassistent by Mediclinic Cape Gate deur ’n agentskap en
is verlede week permanent by die hospitaal aangestel.  Hy sou Maandag sy
nuwe reis as permanente werkgewer by die hospitaal begin het.

Viola beskryf hom as
iemand wat baie vredeliewend en onder sy kollegas en die gemeenskap gewild was.

“Hy was lief vir die
lewe – en vir mense en diere. Almal het hom geken. Hy was ’n ekstrovert en
grappig en ’n mens het hom hoor aankom voordat jy hom gesien het. Hy het altyd ’n
glimlag op sy gesig gehad en dis baie moeilik om te glo dat enigiemand hom sou
wou seermaak.

“Hy het altyd gegee as
iemand iets nodig gehad het en gesê ‘dis oraait, môre kry ek weer”.

Viola sê dis
skrikwekkend om te dink dat mense saam met wie jy gekuier het, jou só
gewelddadig kon vermoor en van jou familie af wegruk.

“Dis ’n geweldige skok
vir die familie. Hier is verskriklik baie geweld in Kraaifontein waar sy lewe
net so weggevat is deur die koue hand van die dood.”

Kapt. FC van Wyk van die polisie se provinsiale
mediakantoor het die voorval bevestig en bevestig die saak word nog ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.