Geliefde koerantjoggie sterf op straathoek in Durbanville

’n Geliefde koerantjoggie het gisteroggend gesterf, vermoedelik aan ’n hartaanval, terwyl hy op sy pos op die hoek van Hoof- en Queenstraat in Durbanville was om koerante te verkoop.


’n Geliefde koerantjoggie het gisteroggend gesterf,
vermoedelik aan ’n hartaanval, terwyl hy op sy pos op die hoek van Hoof- en
Queenstraat in Durbanville was om koerante te verkoop.

Kort nadat Desmor Marks (54) – beter bekend onder klante as
Desmond of Tabakkies – soos elke oggend ’n blinde vrou, Wendy Brymer en haar
gidshond Lucy, oor die besige strate gehelp het, het hy net na 08:00 inmekaar
gesak.

’n Ambulans is ontbied, maar hy is op die toneel oorlede,
voor die ambulans opgedaag het.

Verskeie inskrywings is op die Facebook-blad van Durbanville
Community gedoen om hulde aan hom te bring.

Marks, van Elsiesrivier, werk al meer as 30 jaar as
koerantjoggie, waarvan meeste in Durbanville.

Nie net het hy vir Brymer oor die pad gehelp nie, maar
dikwels ook soos ’n wafferse verkeersman die motors laat stilhou sodat ’n
ma-eend met haar babaeendjies die pad kon oorsteek.

Só getrou was hy op sy pos, dat hy op sy eie onkoste na sy
hoek toe is, soms gestap het as hy sy vervoer vanaf Elsiesrivier gemis het, het
Keith Fraser, ’n kontrakteur van On the Dot, gesê.

“Hy het nie een dag uit die werk gebly nie. Nie een dag nie.
Hy was ’n legende in die gemeenskap,” het Fraser gesê.

Een van sy bewonderaars, Stephanie Winterbach, het Marks
geloof vir sy onvoorwaardelike liefde vir mense.

“Hy het liefde altyd laat wen. Sy glimlag het elke dag baie
harte vroegoggend laat glimlag. Almal het gewag om by die skool vir Desmond te
sien en te waai.

“Sy wilde krulkop gaan ons gemeenskap mis. Min het geweet
waar hy slaap of wie is sy kinders. Maar onvoorwaardelike liefde het hy vryelik
gegee,” het sy gesê.

Brymer het vertel dat Desmond gisteroggend nie homself was
nie. Hy het haar gewoonlik om 07:40 oor twee paaie tot op ’n sypaadjie
vergesel, maar gister het hy haar net oor die eerste pad gehelp. Hy het toe
haar kollega, wat daar was om ’n koerant te koop, gevra om verder saam met haar
te stap.

“Dis nie hoe Desmond was nie. Hy was elke dag op sy pos en
het my verder af in die straat gehelp,” het sy hartseer gesê. Hy het
vermoedelik toe reeds sleg begin voel.

Hy het by sy suster in Epping Forest in Eersterivier gebly.
Hy was die pa van twee volwasse seuns, Deon en Christopher.

Volgens Fraser is hulle besig om die familie te help met
begrafnisreëlings.

You need to be Logged In to leave a comment.