Die gevaar van `n gekraakte damwal mag dalk nou in `n ramp verander, sê inwoners van Wyk 103 wat rondom die Lisbonstraat-retensiedam in Uitzicht woon.
Dawie Coetzer praat vir `n groep bekommerde inwoners wat vrees dat die damwal as gevolg van `n gebrek aan instandhouding weens die winterreën kan meegee, wat skade aan eiendom en selfs `n verlies van menselewens tot gevolg kan hê.
Coetzer het die erosie en lekplek in die damwal se struktuur al in Junie 2023 aan die Stad Kaapstad se subraad 7 gerapporteer.
“Daar is beloof om dit onmiddellik reg te maak, maar daar was geen reaksie van die munisipaliteit nie. Ek het dit weer later in die wintermaande opgevolg, maar is daar net altyd beloftes gemaak dat die regte departement sal aandag gee aan die probleem,” sê hy.
Toe die winterreën van 2024 tref, het die lekplek vergroot en water het weer eens onderdeur die wal gestroom.
Sandsakke
“Dus het die erosie se tol net nog meer sigbaar geword. Die betonwal het duidelike krake en water sypel deur die beton onder die dam uit. Selfs teen die kant van die betonstruktuur syfer die water deur in strome. Ek het dit weer onder die subraad se aandag gebring en die waterdepartement het `n klomp sandsakke kom pak om te keer dat die wal meegee.
“Dit was egter weer te laat omrede die meeste van die dam se water reeds uitgevloei het en dit ook teen die einde van die seisoen eers aandag gekry het.”
Volgens Coetzer het die lek veroorsaak dat die watervlakke aansienlik laer was aan die einde van die reënseisoen as wat gewoonlik die geval was.
“Ons is tans in `n situasie waar die dam op die punt is om op te droog en alle visse sal vrek. Ek het die subraad verlede maand ingelig oor die gesondheidsgevaar en reuk sou die visse vrek. Ek het ook genoem dat die winter om die draai is en dat die damwal nie `n derde aanslag van die elemente sal kan hanteer nie. Ek het dit ook duidelik gemaak dat menselewens bedreig word indien die wal sou meegee. Dit is waar alles stilstaan, want ons wag nou al meer as twee jaar vir `n plan van aksie om die damwal reg te maak,” sê Coetzer.
‘Geen vloedrisiko’
Zahid Badroodien, burgemeesterkomiteelid vir die Stad Kaapstad se waterdepartement, meen egter daar is geen vloedrisiko by die dam nie omdat die dam baie laer is as die woongebied.
“En sou dié damwal breek sal die water afvloei in die kanaal na die Barcelona retensiedam en van daar verder stroom af,” sê Badroodien.
Maar inwoners stem nie saam nie.
“Daar is baie huise wat laer as die dam geleë is. Veral huise onder die dam tussen Richter- en Valenciastraat loop gevaar om te verspoel as die danwal breek. Baie stormwater van Goedemoed en ander buurte bo Uitzicht kanaliseer in die dam in. Van daar spoel dit oor na die Barcelonadam wat se wal ook beskadig is. As die damwal ook breek sal grootstormwater deur die huise spoel. In die stadium is daar net sandsakke wat die water kan keer. Daar is nagte wanneer dit so hard reën dat die dam soos `n waterval klink soos die water afkom.
Badroodien het aan TygerBurger gesê die Stad het stormwater-rehabilitasie die afgelope twee jaar geprioritiseer, en dat werk op `n prioriteitskaal gedoen word. Hy sê daar sal weer sandsakke by die dam gelê word om waterafvoer en erosie tydens die winter te beperk.
“`n Siviele ingenieur is aangestel om `n nuwe beton-uitloopstruktuur vir die dam te ontwerp en konstruksie sal na verwagting in die volgende boekjaar begin, sou die begroting dit toelaat,” sê Badroodien.
Maar inwoners voel nie gesus nie. Coetser sê daar is al sandsakke gelê en dit het duidelik nie gewerk nie.
“As die probleem twee jaar terug opgelos is toe dit gerapporteer is, sou dit nie nou kritiek gewees het nie. Die stad versuim sy verantwoordeliheid aan belastingbetalers.
“Elke jaar word daar gesê dit word reggemaak, maar dan rol dit oor na die volgende jaar omdat daar nie geld is nie. Wanneer gaan die Stad luister, as mense sterf?”


