Geen stappe oor boom

Byna twee maande nadat ’n inwoner van Mopanistraat, Plattekloof, glo ’n wildevyeboom se takke onwettig laat afkap het, is daar steeds geen stappe teen hom geneem nie.


Byna twee maande nadat ’n inwoner van Mopanistraat, Plattekloof, glo ’n wildevyeboom se takke onwettig laat afkap het, is daar steeds geen stappe teen hom geneem nie.

TygerBurger het vroeër berig oor hoe die boom se takke sonder die nodige toestemming van die Stad Kaapstad se ontspanning- en parkedepartement afgekap is (“Boom stomp gesnoei”, 23/10).

LEES | Wilde-vyeboom in Plattekloof glo deur ‘n inwoner onwettig gesnoei

Die boom, wat geleë is op munisipale eiendom, is glo deur ’n kontrakteur laat afsaag om ’n beter uitsig oor Tafelberg te bekom. ’n Kettingsaag is glo hiervoor gebruik, is berig.

In die vorige nuusberig het die wyksraadslid genoem dat slegs die parke-departement die reg het om bome op munisipale grond te snoei of uit te haal.

Uitsig

“Niemand het die reg op ’n uitsig nie,” het sy aan die koerant gesê.

Die Stad het destyds bevestig dat die voorval deur hul ontspannings- en-parkedepartement ondersoek word en dat die stappe wat geneem sal word, bepaal sal word deur die uitkoms van die ondersoek. Die voorval is daarna na die Stad se regsafdeling verwys, waar ’n boete bereken sou word ingevolge die grootte van die boom, en die skade wat berokken is.

TygerBurger het sedertdien twee keer na die Stad uitgereik om vas te stel hoe ver die ondersoek is. In ’n vorige antwoord op navrae is die koerant meegedeel dat die Stad se ontspannings- en parkedepartement steeds die voorval ondersoek en dat die departement terugvoering sal verskaf sodra die ondersoek afgehandel is.

’n Anonieme inwoner van Plattekloof het verlede week in ’n brief sy ongelukkigheid oor die stelling dat niemand die reg op ’n uitsig het nie, uitgespreek.

“Ek stem saam dat hy eers die munisipaliteit moes gekontak het. Ek stem egter nie saam met die stelling deur een van die munisipaliteit se werknemers dat inwoners in Plattekloof geen reg het op ’n uitsig oor Kaapstad nie – die mooiste stad in die wêreld.

“Toe ek die erf gekoop het waar ek nou woon, is ek deur die Parow-munisipaliteit meegedeel dat alle erwe op ’n laer vlak gebou moet word aangesien hoogte-beperking in plek was sodat al die eiendomme ’n uitsig oor Kaapstad sal hê.

“Ons as eienaars van eiendomme in Plattekloof 1 tot 4, wat maandeliks hoë tariewe en hoë belasting betaal, word benadeel deur dié negatiewe opmerking.

“Hierdie opmerking het ’n groot daling in die waardes van eiendomme in Plattekloof 1 tot 4 veroorsaak,” skryf die inwoner.

TygerBurger het navrae oor die beweerde hoogtebeperking aan die Stad gestuur. Sodra die Stad hierop reageer sal sy kommentaar gepubliseer word.

Die inwoner sê verder die Mexikaanse-peperbome, wat oral tussen Plattekloof 1 tot 4 geplant is, is ’n uitheemse boom.

“Dit het groot wortels wat sal ontwortel en later die teerpaaie en mure van eiendomme sal beskadig, wat in die toekoms ten duurste vervang sal moet word.”

Hy skryf dat die bosslapers ook snags in die bome slaap, in ’n poging om nie raakgesien te word nie.

“Laastens, as die munisipaliteit nie hiermee saamstem nie, kan hy ’n spesialis aanstel om die bome en paaie te kom inspekteer, en te verduidelik oor die uitsigte, soos jare gelede deur hul departement wat die behuisingsplanne hanteer, besluit is,” skryf die inwoner.

You need to be Logged In to leave a comment.