Gansbaai man vermoor vervreemde vrou in Kraaifontein, skiet homself ná hy polisie met wapen dreig

’n Gruwelike drama het verlede Woensdagoggend in Zonnendal in Kraaifontein afgespeel toe ’n man sy vervreemde vrou vermoor, die polisie met ’n vuurwapen gedreig het en daarna homself geskiet het.


’n Gruwelike drama het verlede Woensdagoggend in Zonnendal
in Kraaifontein afgespeel toe ’n man sy vervreemde vrou vermoor, die polisie
met ’n vuurwapen gedreig het en daarna homself geskiet het.

TygerBurger het betroubaar verneem dat die man, Johan de Wet
(59) van Gansbaai, uit die Overberg gereis het met die voorneme om die
slagoffer Alicia de Wet (63) te vermoor.

Volgens die bron het hy die vorige dag iemand gebel om te sê
hy kom Kaap toe om haar te skiet.

De Wet was met ’n vuurwapen en ’n mes gewapen.

Hy het glo omstreeks 07:00 by haar huis in Aucubastraat
gestop waar hy haar ingewag het ná haar oggendstappie. Soos verneem, het hy
haar  sonder haar wete deur die motorhuis by die huis in gevolg.

Bure het glo ’n ruk later haar noodkrete uit die huis uit
hoor kom en ’n noodoproep na die polisie gemaak.

Met die polisie se aankoms moes hulle oor die heining klim
en het die man by die voordeur-sekerheidshek gekonfronteer waar hy aan die
polisie gesê het alles is in orde.

Die twee polisiebeamptes, ’n man en ’n vrou, het egter bloed
op sy hemp gesien en die huis binnegedring. Hulle het die vrou nog lewend maar
bebloed op die vloer gevind.

Sy is glo met ’n okapi-mes in die nek, maag en heup gesteek.

“Die man het weer sy verskyning gemaak en ’n vuurwapen op
die twee polisiebeamptes gerig om te skiet, maar die polisie het eerste gevuur
om hom buite aksie te stel en hy (Johan) is in die maag getref. In die etlike
sekondes wat hy grond toe geval het, het hy dit reggekry om die vrou op die
vloer dood te skiet, voor hy homself doodgeskiet het,” sê die bron.

By amptelike navraag het die polisie se provinsiale
mediakantoor die voorval bevestig, maar wou nie die fyner besonderhede bevestig
nie.

“Die Kraaifontein-polisie het ‘n moordsaak sowel as ‘n
geregtelike doodsondersoek geopen. Die omstandighede rondom die voorval is
onderhewig aan ‘n polisie-ondersoek en die fyner aspekte van die saak sal nie
in hierdie voortydige stadium aan die media bekend gemaak word nie,” sê die
polisie-woordvoerder sers. Wesley Twigg.

You need to be Logged In to leave a comment.