“’n Kat kan ook na ’n koning kyk,” lui die gesegde, maar dié kat gedoop Fresh Prince of Belhar is vanjaar as een van die Wes-Kaap se topkatte gekroon, danksy ’n spesiale band met sy beste maat, Marcus Leach.
“Ons as ’n gesin skou ons Maine Coons. Ons het vir Fresh Prince of Belhar net vir getalle by ’n skou ingeskryf, waar die gogga toe vir Marcus gebyt het. Só het hy in die topvyf vir huiskat as Kaapse Topkat geëindig,” vertel Marcus se ma, Riekie.
Die Fresh Prince, met die noemnaam Ninja, was uiteindelik op Saterdag 26 Oktober deur die Westelike Provinsie (WP) Katklub (Western Province Cat Club) as die beste huiskat van die jaar aangewys.
“Kaapse Topkat is die streekeindronde van die top-30 katte in die Wes-Kaap, ná ’n mededingende jaar van vertonings om te kwalifiseer vir die beste posisies. Vanjaar is ’n verskeidenheid katrasse, sowel as huis- en ongeregistreerde katte uitgestal, almal met die hoop om die gesogte titel Kaapse Topkat 2024 te wen,” sê Adri Swart, voorsitter van die WP-katklub.
Droomvanger
Elke deelnemer aan die kompetisie ontvang ’n amulet wat deelnemende pare se unieke storie saamvat, en in dié geval was Marcus en Ninja s’n ’n droomvanger.
Die storie, soos saam met die amulet oorhandig, vertel hoe die negejarige Marcus as klein babatjie deur Ninja (11) gekoester is – sy sou snags teen hom opkrul en sorg vir soete drome.
“Ninja was oorspronklik die huiskat van ’n bejaarde vrou in Belhar. Ons het hom aangeneem en huis toe gebring na Van Riebeeckshof, Bellville. Sedertdien is hy en Marcus mekaar se beste maats.”
“Ek en my kat, Ninja, was maats van die eerste dag af. Ons is so mekaar se beste maatjies, dat ons snags langs mekaar slaap en saam televisie kyk,” vertel Marcus. “Ek is so trots op my ou katjie wat Kaapse Topkat gewen het!”
Katkompetisies oop vir almal
Van die vier afdelings is die troeteldier-afdeling waarskynlik die moeilikste om te wen.
Die kategorieë is in vier hoofafdelings verdeel:
- Stamboomkatte wat nog kan teel;
- Stamboomkatte wat reggemaak is;
- Stamboomkatjies (tussen 14 weke en 9 maande oud);
- Huis- of plaaskatte – nie-stamboomkatte (dikwels katte wat gered en aangeneem is).
“Die stamboom-afdelings het baie spesifieke punte-standaarde waaraan elke ras moet voldoen – kortliks, dis ’n skoonheidskompetisie. Hoewel die troeteldier-afdeling ook standaarde het soos goeie algemene gesondheid en kondisie, temperament en netjiese versorging (geen vlooie of vuilheid nie), presteer katte met ’n uitgaande, vriendelike ‘purr-soonlikheid’ gewoonlik baie goed,” verduidelik Swart.
Skryf jou kat in
Tog, onderstreep Swart, is katskoue nie net vir stamboomkatte nie.
Die huis- en troeteldier-afdeling moedig goeie katversorging aan en beloon dit. Troeteldiere ouer as ses maande moet gesteriliseer wees.
“Sterilisasie is belangrik om ongewenste diere te vermy, wat druk op skuilings plaas, en kan reeds so vroeg as vier maande gedoen word – aangesien katte so jonk is as dit dragtig kan raak.
“Solank as wat die kat se inentings op datum is, is alle nie-stamboomkatte welkom om deel te neem, maar stamboomkatte moet egter geregistreer wees.”
Swart het ten slotte ’n geagte beoordelaar by ’n soortgelyke vertoning se woorde gedeel: “Al die finaliste is wenners, maar die beste kat is die een by die huis.”
Stuur ’n e-pos na wpcatclub@gmail.com vir meer inligting oor hoe om jou kat te skou.