Sowat 500 senior burgers het die geleentheid by Suidkerk bygewoon. FOTO’S: Carina Roux


Dit was dalk ’n koue, nat wintersdag, maar by die NG kerk Kuilsrivier-Suid, oftewel Suidkerk, het die harte op Saterdag 27 Julie warm geklop.

Suidkerk, wat vanjaar ook sy 60ste bestaansjaar vier, het as deel van sy jaarlikse Winterhoop-projek sowat 500 senior burgers van Kuilsrivier en omgewing met ’n musiekkonsert, ’n rooi kombers en ’n gebraaide snoek-wegneemete bederf.

Die geleentheid is moontlik gemaak in samewerking met die VGK Sarepta, die NG kerk Velddrif en die Kuilsrivier-polisie.

Karen Theunissen, bedieningsbestuurder, sê die span van Velddrif het die oggend die snoek kom braai en Sarepta VGK het gesorg dat alles in plek is vir die musiekkonsert, waar plaaslike talent opgetree het.

VGK Sarepta se kinderkoor het opgetree.

Lisa Human (Suidkerk) oorhandig komberse. Links is Joy Quanson van die AGS-aftreeoord in Kuilsrivier.

Brenda Lucas (Helpmekaarklub) het haar kombers van Esmeralda Moosa (VGK Sarepta) ontvang.FOTO: Carina Roux

Chris en Drienie Jonker van Kuilsrivier en hul dogter, Vlooi Visser (Velddrif). FOTO: Carina Roux

Van links is Glynis Ismail, Nicolene Ismail, Marita Presence en Mark Rhode, almal van Kuilsrivier.

Norma Dickenson ontvang ’n kombers van Mina Campher van Suidkerk. FOTO:

Die koor van VGK Sarepta (Silversands) onder leiding van James Flowers.

Lede van Golden-seniorsklub in Eersterivier het hul rooi komberse om hul skouers drapeer.

Seniors met hul rooi komberse op pad na die bussies wat deur die polisie gereël is.

Ná die konsert het AO Liesel Beukes gesels oor misdaad teenoor seniors en wenke gegee. Die polisie het ook met hul bussies van die seniors na en van die kerk vervoer.

Die geleentheid is afgesluit met die oorhandiging van ’n rooi omgeekombers asook ’n wegneemete-pakkie vir elke gas.

Aan elke komberse was ’n kaartjie geheg met ’n spesiale boodskap om Jesus se liefde na die ontvangers uit te dra, sê Theunissen.

“Ons bedank graag Du Toit-boerdery vir die patats, TJ’s Lekka Braai vir die houtskool, WC Milling vir meel, Zevenwacht vir wingerdhout, Malan’s Melkery vir melk, HH Waste vir dromme, Talisman vir ekstra toilette en die Laerskool Mikro vir die leen van hul braaidromme. Dankie aan elkeen wat bygedra het, daarsonder was dit nie moontlik nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.