Danksy ’n reuse-spanpoging is die verwaarloosde Jack & Jill-kleuterskool in Morningstar in Durbanville verlede week pragtig opgeknap.
Volgens Rouvé Hattingh van Durbanville was sy moedeloos toe sy by haar huiswerker, wat in die skool se komitee dien, hoor dat die geld wat vir die skooltjie se opknapwerk ingesamel is, glo voete gekry het.
Die kleuterskool in Kwartelweg bestaan al sedert 1961.
Hattingh het die dorp ingevaar op soek na borge vir verf en ’n blik of wat verf só bekom – onder meer van Agrimark Durbanville, maar dit was nie genoeg nie. Sy het toe by haar naeltegnikus te hore gekom van PaintMaster SA in Montague Gardens. Sy is na Shaun van Wyk, uitvoerende hoof, verwys en het hom gekontak.
En dit was die begin van ’n grootskaalse projek waarin PaintMaster SA al die verf geskenk het om die skool binne en buite te verf, asook hul eie span werkers beskikbaar gestel het. Hulle het selfs die kombuiskaste geverf. Dulux JF Paints, een van hul vennote, het ook verf geskenk.Jade Thompson van PaintMaster SA, wat in Bloubergstrand woon, het die verfprojek gedryf.
Weens die reënweer verlede week kon die buitekant van die skool nie toe geverf word nie, maar dié verfprojek, asook die verf van die vibracrete-ringmuur, word vandeesweek aangepak, sê Hattingh.
Danksy ’n Facebook-blad wat Thompson begin het, is daar al verskeie skenkings gemaak, sê sy.
“Tot ons grootste verbasing en blydskap het die wonderlikste skenkings uit die gemeenskap na vore gekom,” sê sy.
Gelamineerde houtvloere
Kruiskerk het ’n kontantskenking gemaak, wat gebruik is vir die installasie van gelamineerde houtvloere in ’n gedeelte van die skool. Wikkejan Jongsma van SA Vloerweelde in Bellville het egter onderneem om die hele skoolgebou se vloere binne-in oor te doen.
Lewis Stores het ook ’n skenking van ’n splinternuwe yskas, stoof en mikrogolfoond gemaak. Table Bay Curtains het nuwe gordyne vir die skool geborg.
Twee vrywilligers, Eva de Jesus en Anthea Smit, het hul dienste aangebied om die mure aan die binnekant met muurskilderye te verfraai.
“Ons is ook genader deur ’n akademiese boekhandelaar, wat elke jaar op Mandeladag ’n skool se tuin opknap en boeke skenk. Hopelik gaan hulle vanjaar vir Jack & Jill kies,” sê sy.


